“Ek en my span het onvoltooide werk in Pretoria.”
So antwoord die DA se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, op ‘n vraag of hy homself beskikbaar sal stel wanneer die DA se nuwe leier binnekort verkies word. Die huidige leier, John Steenhuisen, se aankondiging vroeër die week dat hy homself nie weer verkiesbaar sal stel nie lei tot wye spekulasie oor wie hulle name in die hoed gaan gooi. Brink is egter nie beskikbaar nie.
“Buite Kaapstad is die Tshwane-metro die een plek waar die DA die sterkste staan in die aanloop die 2026 plaaslike regeringsverkiesing. Helen Zille maak reeds ‘n impak in Johannesburg, wat die Gauteng ANC kan noop om te konsolideer en verkiesingshulpbronne aan plekke soos Tshwane te onttrek. Ons het ‘n gulde kans om hier te groei en orde te skep uit die koalisie-chaos van die afgelope dekade.”
Brink sê dit is ‘n projek wat nie net belangrik is vir die mense wat in die Jakarandastad woon nie maar ook vir die land se welvaart.
“Ons moet vervalle infrastruktuur opbou, vennootskappe met die privaatsektor sluit, en waarde vir belastingbetalers se geld skep. Om die Tshwane-metro terug te wen en te herstel is ‘n enorme taak op sy eie, en een wat nie maklik gekombineer kan word met die leierskap van die party nie. Ek moet kies, en Pretoria is my prioriteit.”
Brink sê verder dat die persoon wat die leisels by Steenhuisen oorneem moet verseker dat die DA homself duidelik van die ANC onderskei.
“Deelname aan die regering van nasionale eenheid mag nie lei tot passifisering en uiteindelik koöptasie nie. Regeringsdeelname is dalk belangrik om die EFF en MK uit te hou, maar die land het ook ’n duidelike toekomsvisie nodig—’n post-ANC-alternatief. Die DA moet op ’n breër ideologiese front baklei.”
Brink is egter nie bekommerd dat die DA ‘n tekort aan moontlike opvolgers het nie.
“Die DA het ‘n groep jong dinamiese leiers wat die party vorentoe kan vat, en ek is vol vertoue dat ons die regte persoon sal kies. Ek oorweeg wel om myself beskikbaar te stel vir een van die DA se federale ondervoorsitterskappe: ‘n besluit wat ek slegs mag kommunikeer wanneer die benoemings oopmaak aan die einde van hierdie maand.”