President Cyril Ramaphosa het die paneel aangestel wat die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings sal help aanwys.
Die huidige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, advokaat Shamila Batohi, se termyn eindig in Januarie 2026.
Die minister van justisie, Mmamoloko Kubayi, sal die paneel lei.
Die paneel bestaan uit die voorsitters van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Staatsdienskommissie, die ouditeur-generaal van Suid-Afrika asook verteenwoordigers van die Swart Prokureursvereniging en die Nasionale Vereniging van Demokratiese Prokureurs.
Volgens ’n verklaring van die presidensie het Ramaphosa die mandaat aan die paneel gegee om benoemings op ’n oop en deursigtige wyse te verkry, kortlyste saam te stel, onderhoude te voer, toepaslike sekuriteitsondersoeke te verseker en uiteindelik drie geskikte kandidate aan hom voor te lê vir oorweging.
Die paneel moet die finale verslag met aanbevelings binne drie maande ná hul aanstelling aan die president voorlê.