Luister nou

Laerskool Garsfontein se Senior Revue steek sosiale media aan die brand

Deur Pretoria FM Nuusspan

Die Laerskool Garsfontein se Senior Revue – waarvan ’n video op sosialemediaplatforms gedeel is – het Suid-Afrikaners gaande vanweë die leerlinge se passie, talent en die perfekte sameflansing van musiek en gechoreografeerde dans.

Die Revue bestaan uit 103 leerlinge ván Graad 4 tot 7 wat min of geen dansagtergrond het nie én by ander buitemuurse aktiwiteite betrokke is.

“Ons het ván Januarie tót September 107 ure op Woensdae en selfs Vrydae en Saterdae geoefen. Die ure sluit ook ’n hele vakansieweek se oefening in Junie in, wat ’n goeie aanduiding van die toewyding van ons leerlinge is. Agter hulle staan ’n span bestaande uit drie hardwerkende onderwyseresse, een kreatiewe choreograaf en een uitmuntende assistent-onderwyseres,” vertel Lilize Azar, die Laerskool Garsfontein se Senior Revue-organiseerder.

Dié uithaalproduksie met die tema: “RSA in my DNA” is verskeie kere tussen Julie en September opgevoer, onder meer vir drie kompetisies, waarvan hulle by twee die finale rondte gehaal en by die derde die wentitel omhoog gehou het.

Dié tema word oorgedra met musiek van onder andere Laurika Rauch, Mango Groove, Madonna en Queen.

“Die buiteland lok ons familie en vriende met groener weivelde, maar wat in ons are loop is dieper as ’n kragkrisis en omstandighede wat hopeloos lyk. Daar’s ’n gees van ubuntu in ons are en ’n kultuur van saamstaan, ongeag die donker wolke van onsekerheid. Ons oë sien die potensiaal van dít wat kan wees en al die skoonheid in ons land,” sê Azar.

Dis nie nét die ingeoefende presisie van die uitvoerendekunstetalent van die leerlinge wat kykers bekoor nie, dis ook die verhoog wat lééf wat die oog op die skouspel ingestel hou. Ten tyde van die produksie is daar 5 kostuumveranderings en 15 verhoogskuiwe en byna elke liedjie het sy eie formasie.

Ondanks die sukses van elke leerling wat deel is van die produksie bly dit vir die skool die belangrikste dat die kinders dit moet geniet.

“Ons hoofdoel en hooffokus by Garsies se Senior Revue is ons leerlinge en om vir elkeen die platform te bied om hulle harte te kan uitdans en selfs saam te sing. Die groei wat binne een jaar in ’n Revue-leerling plaasvind is verstommend en daarom is ons bevoorreg om hiervan deel te kan vorm,” sê Azar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: Moneyweb

Ondersoeke teen Patrick Dlamini gaan steeds voort

Fotokrediet: Kalahari Tours and Travel

Die Augrabieswaterval Nasionale Park vier 60 jaar

Parlement

Art. 89-komitee hof toe oor Phala Phala-interdik

OBK - Moneyweb

Godongwana besin oor die toekoms van die OBK

Fotokrediet: Moneyweb

Comrades Marathonvereniging bekragtig sy besluit

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: Netwerk24
Deel van vuurpyl stort op die maan neer
Fotokrediet: Netwerk24
Nasionale Minimumloonkommissie begin met openbare proses
Anil Sooklal
Nuwe beleid sal oudpresidente se buitelandse reise reguleer
Fotokrediet: Moneyweb
Ondersoeke teen Patrick Dlamini gaan steeds voort
Fotokrediet: Kalahari Tours and Travel
Die Augrabieswaterval Nasionale Park vier 60 jaar

Luister nou