SANParke sê uit respek vir die slagoffer en haar familie gaan hy nie nou reageer op die dood van ‘n 68-jarige vrou wat die naweek by die Krugerwildtuin deur ‘n olifant getrap is nie.
Maroela Media berig dat die slagoffer haar in ‘n trop olifante vasgeloop het terwyl sy naby die Sirheni-boskamp gestap het. Die olifante was naby aan die kamp.
‘n Woordvoerder van SANParke, Ike Phaahla, sê die voorval word deur die polisie ondersoek en meer inligting sal na afloop van die ondersoek bekend wees.
Haar nasionaliteit is ook nog nie bekend gemaak nie.
Die raad van SANParke en die bestuur van die wildtuin het hul innige meegevoel betuig met die familie en geliefdes van die oorlede vrou.