Waarskuwing: Sommige inligting in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
Een van die verdagtes in die opspraakwekkende aanrandingsvoorval by die Zanzou-nagklub in Pretoria, ‘n 41-jarige van die Kongolese, het vanoggend vlugtig in die landdroshof verskyn.
Dit kom nadat ‘n video aan die lig gekom het waarin vyf mans na bewering deur ‘n groep werknemers in die die kuierplek se stoorplek aangerand word, en gedwing word om seksuele dade op hulself uit te voer. In een van die videos word ‘n handdoek oor ‘n man se gesig gehou waarna water op die handdoek gegooi word. Hulle is ook ondermeer vasgebind en met messe gesteek.
Die voorval het glo in 2023 plaasgevind, maar die videos het nou eers aan die lig gekom.
‘n Lid van die MK-party, Abel Tau het die saak bygewoon, en meen hulle is hoopvol dat die ander verdagtes gou na vore sal kom sodat geregtigheid kan geskied.
LEES OOK: Burgemeesterskomiteelid eis nagklub-eienaars se reaksie ná beweerde aanranding
Die verdagte het intussen in vanoggend se hofsaak aangevoer dat hy deur polisiebeamptes aangerand is. Hy staar aanklagte van Crimen Injuria, aanranding met die doel om ernstig te beseer, en gedwonge verkragting in die gesig. Die saak is tot 3 Maart uitgestel en die verdagte bly in polisie-aanhouding.
Intussen het die teenimmigrantegroepe Operation Dudula vanoggend buite die hof betoog en het ‘n beroep op die regstelsel gedoen om ‘n voorbeeld van die verdagte te maak.
Die woordvoerder van Dudula, Refilwe Mathe sê die buitelanders weet hulle kan doen wat hulle wil teen Suid-Afrikaners omdat daar nie maklik teen hulle opgetree kan word nie “omdat hulle dokumentasie nie altyd volledig is nie.”