Deur: Marais de Vaal
Vervalle infrastruktuur, drinkwater wat weens lekkasies ongehinderd in strate afloop en verlore gaan, langdurige wateronderbrekings, beurtwaterstelsels en watertenkaflewerings wat lukraak toegepas word is die tragiese, dog algemene, toneel wat tans regoor Gauteng afspeel. Gevolglik word gemeenskappe se basiese reg op toegang tot skoon water op ’n ongekende skaal ondermyn.
Wat is elk van Gauteng se drie metropolitaanse munisipaliteite (Ekurhuleni, Johannesburg en Tshwane) se oplossing? Die instelling van waterbeperkings wat daarop gemik is om inwoners te dwing om waterverbruik te verminder.
Inligting oor die metro’s se waterverbruik wat aan die publiek bekend gemaak word, dui egter daarop dat die instelling van waterbeperkings sedert November 2024 weinig verandering in die metro’s se waterverbruik teweeg gebring het en elkeen verbruik steeds meer water as wat Rand Water aan hulle kan voorsien. Só moes Rand Water byvoorbeeld gedurende Januarie 352 megaliter per dag (MLD) méér water aan Johannesburg voorsien as dié metro se teiken daaglikse verbruik van 1 356 MLD.
Delf mens ’n bietjie dieper in hierdie syfers, word die oorsaak van die metro’s se oorskryding gou duidelik. Omdat daar altyd ’n mate van verliese in ’n groot watervoorsieningstelsel gaan wees, byvoorbeeld as gevolg van pype wat bars, reservoirs wat oorloop, lekkasies en diefstal, word die teiken vir fisiese waterverliese gestel op 15% van die totale volume water wat in die stelsel ingevoer word. Fisiese waterverliese was aan die einde van September 2024 in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni onderskeidelik 35%, 33% en 28%. Aan die einde van Februarie 2025 het dit in Johannesburg toegeneem tot 37%, terwyl Tshwane en Ekurhuleni onveranderd op 33% en 28% gebly het.
Buiten dat al drie metro’s dus ongeveer dubbel soveel water as gevolg van fisiese waterverliese verloor as wat hulle veronderstel is, wys dit ook waarom waterbeperkings nie die oplossing vir die waterkrisis is nie. Die volume water wat bespaar sal word as die metro’s se waterverliese beperk word tot die teiken van 15%, sal in elk van die metro’s meer as genoeg water bespaar sodat die teiken daaglikse verbruik nie oorskry word nie. Byvoorbeeld, indien Johannesburg se huidige waterverliese van 37% met 22 persentasiepunte verminder tot op die teiken van 15%, sal 376 MLD bespaar word. Dit is meer as die 352 MLD waarmee Johannesburg se gemiddelde daaglikse verbruik tans die teiken van 1 356 MLD oorskry. Eenvoudig gestel: beperk fisiese waterverliese om teikens vir daaglikse waterverbruik te behaal.
Hierdie uitermatige hoë waterverliese is egter simptomaties van jarelange regeringswanbestuur, swak instandhouding van die munisipale waternetwerke, verouderde infrastruktuur, tegniese tekortkominge, ’n gebrek aan dringende optrede en ’n algehele gebrek aan verantwoordbaarheid. Deur watervermorsing voor die deur van die provinsie se inwoners te lê, ignoreer die metro’s gerieflikheidshalwe hierdie feite.
Die instelling van waterbeperkings is daarom niks anders as ’n pleister wat op die metro’s se wonde geplak word nie.