Luister nou

Meisies en seuns ewe betrokke by kuberafknouery

Deur Redaksie

Twee derdes van tieners wat as deel van ’n navorsingsprojek aan die Universiteit Stellenbosch ondervra is, was by kuberafknouery betrokke. Dit het 19,9% ingesluit wat slegs slagoffers was, 6,7% wat ander slegs aanlyn geboelie het en 37,3% wat kuberafknouery ondervind én self gepleeg het. Meisies (65,1%) en seuns (62,6%) se betrokkenheidskoerse was feitlik dieselfde.

Die navorsingstudie, wat deur Camryn Twaddle van Artefact Suid-Afrika en prof Daniel le Roux van die Departement Inligtingswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch onderneem is, het bevind dat kuberafknouery nie net tieners se emosionele welstand kan beïnvloed nie, maar ook hulle motivering en akademiese prestasie. Hulle het leerders van vyf hoërskole in meer welgestelde gemeenskappe (kwintiel 5-skole, wat skoolgelde hef) ondervra. Hul bevindinge het onlangs in die South African Journal of Information Management verskyn. Dié bevindings sluit in dat voorkoming- en ondersteuningstrategieë nodig is wat die ontwikkelingsfase van tieners, die verskillende sosialemediaplatforms wat hulle gebruik, asook die sosiale druk wat hulle aanlyn ondervind, in ag neem.

Volgens die studie is die algemeenste gedrag wat deur diegene gemeld is wat erken het dat hulle ander geboelie het, om geheime sonder toestemming te deel, iemand te beledig en om boodskappe te stuur wat iemand in die verleentheid bring of seermaak. Meisies het aangedui dat hulle beledig is en gerugte oor hulle versprei is, terwyl seuns meer geneig was om aan te dui dat hulle ander aanlyn gedreig het en onvanpaste foto’s en/of video’s van ander sonder hulle toestemming gedeel het.

Volgens die navorsers dui dit daarop dat tieners dikwels kuberafknougedrag ondervind en meer dikwels self kuberafknouery pleeg wat emosioneel gedrewe en impulsief is en min beplanning of tegniese vaardigheid verg, eerder as die soort afknouery wat volgehoue moeite en beplanning verg.

Die meeste van die kuberafknouery het op TikTok, Instagram en Snapchat plaasgevind.

Die navorsing wys verder daarop dat die persentasie tieners wat aangedui het dat hulle by kuberafknouery betrokke was, afgeneem het namate hulle na hoër grade beweeg het. Ongeveer driekwart van die graad 8-leerders het aangedui dat hulle by ’n vorm van kuberafknouery betrokke was, in vergelyking met ongeveer die helfte van graad 12-leerders. Die navorsers sê dat die hoër koers van kuberafknouery onder graad 8-leerders kan wees omdat hulle nog besig is om by die hoërskool aan te pas en eers onlangs begin het om sosiale media te gebruik, wat hulle sosiaal én aanlyn meer kwesbaar maak. Hulle mag moontlik ook kuberafknouery as ’n manier sien om deur sekere eweknieë aanvaar te word en hulle sosiale status te verbeter.

Die navorsers het ook bevind dat betrokkenheid by kuberafknouery met sekere aspekte van tieners se welstand en akademiese prestasie verband hou. Tieners wat direkte kuberafknouery ondervind het, het laer vlakke van geluk en deursettingsvermoë aangedui en was geneig om akademies nie so goed te vaar nie.

Die navorsers sê dit is belangrik om kuberafknouery in ag te neem wanneer leerders se akademiese probleme hanteer word, selfs al lyk dit of hulle andersins goed vaar.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-80-21-Aug-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Ernst Roets

3000 kruise moet krisis onignoreerbaar maak

Tshwane-logo

Koalisies in al die metro’s verwag

Voorblad

AfriForum en March and March deel verskeie standpunte

Internasionale Perspektief nuut

Waarom die GOP nog in November kan wen

Polisielogo

SAPD wéér in die pekel oor omstrede bevorderings

Ander Nuus Artikels

Boek 3
Graffiti-boekeblad 21 Augustus 2026
Boer tot bord
Die 20/80-mite van Suid-Afrika se boere
Ernst Roets
3000 kruise moet krisis onignoreerbaar maak
Tshwane-logo
Koalisies in al die metro’s verwag
Voorblad
AfriForum en March and March deel verskeie standpunte

Luister nou