Deur: Willie Spies
Wyle prof Anna Neethling-Pohl was in haar jeugjare ’n spioen van die Ossewabrandwag se terreurgroep, die Stormjaers. Gedurende die oorlogsjare het die Stormjaers deur sabotasie ’n gewapende verset gevoer teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog.
Haar man is geïnterneer, en is op ’n stadium ook deur die regering van generaal Jan Smuts gearresteer en van hoogverraad aangekla.
Albert Blake vertel in sy boek Wit Terroriste die kostelike staaltjie van Neethling-Pohl wat, toe sy die nuus hoor dat haar man wat van hoogverraad aangekla is, gereageer het met: “Dankie tog dis nie laagverraad nie!”
Blake skryf dat haar woorde daarna die slagspreuk van die versetbeweging geword het.
Daar bestaan natuurlik nie iets soos laagverraad nie, maar Neethling-Pohl se woorde het ’n sinspeling op die tydsgees geword. Toe was die opvatting dat die verraad van die tyd nie gepleeg is deur die Afrikaanse vyande van die regering, wat teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog gekant was nie, maar dat die regering van generaal Smuts eintlik verraad teen sy volk gepleeg het deur hom te skaar by Brittanje in ’n oorlog teen lande wat 40 jaar tevore vriende van die Boererepublieke was.
Hoogverraad is wederregtelike optrede deur iemand wat trou aan die land verskuldig is, met die opset om die regering omver te werp, die regering met geweld te dwing tot sekere optrede, die voortbestaan of veiligheid van die staat te bedreig, of die grondwetlike struktuur van die staat te verander.
’n Verskeidenheid aandagsoekers, insluitende oudpresident Jacob Zuma se MK-party, het die afgelope tyd bisarre klagte van hoogverraad teen verteenwoordigers van AfriForum en Solidariteit gaan lê weens die stappe wat die VSA-president verlede maand teen Suid-Afrika aangekondig het.
Hulle reken dat verteenwoordigers van AfriForum en Solidariteit “leuens” oor Suid-Afrika vertel het, en dat die hulp aan Suid-Afrika wat deur president Trump gestaak is, nou die voortbestaan of veiligheid van die land bedreig, of tot gevolg kan hê dat die grondwetlike struktuur van Suid-Afrika kan verander.
Ingevolge hierdie vertolking sal elke politieke party wat aan ’n verkiesing deelneem en die regerende party of regerende koalisie kritiseer en wil vervang, ook aan hoogverraad skuldig wees.
Die feit dat die klagtes hoegenaamd gelê is, is verstaanbaar, want dit is gedoen deur individue en organisasies wat self misdrywe soos diefstal, bedrog, omkopery en korrupsie misverstaan en dan in die proses daaraan skuldig raak. Dit is nie vreemd dat hulle ook die misdryf hoogverraad misverstaan nie.
Maar die uitsprake van die minister van Polisie wat noem dat die klagtes “in ’n ernstige lig beskou word”, is skokkend.
As hoogverraad deur ’n landsburger teen die staat gepleeg word, kan ons tans verskeie voorbeelde van “laagverraad” deur die staat teen sy burgers aanhaal – om Anna Neethling-Pohl se woordspeling op die huidige bestel van toepassing te maak.
Kyk maar na die Suid-Afrikaanse regering se geheul met moondhede soos Iran en organisasies soos Hamas, terwyl Amerikaanse diplomate die ANC-leiers herhaaldelik gewaarsku het dat dit die betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika sal laat verbrokkel. Die Amerikaanse regering se ongemak met die ANC se vriende het lank voor die Trump-administrasie ontstaan.
Reeds onder die Biden-bewind het die VSA sy ontevredenheid uitgespreek oor Suid-Afrika se vriendskap met Iran, wat luidens berigte die ANC voor verlede jaar se verkiesing uit sy finansiële verknorsing gehelp het.
As gevolg hiervan is ’n kernbelangrike hulpprogram soos AGOA nou in die gedrang. AGOA het Suid-Afrika onder andere gehelp om deur handel, beleggings en ekonomiese groei te verhoog. Dit het bygedra om Suid-Afrika die grootste en mees diverse nie-olie-uitvoerder na die VSA te maak. Dit het ook gehelp om Suid-Afrika se plek in die waardeketting van die motor- en tekstielsektore te versterk. Die uitvoer van Suid-Afrika se makadamia-neute na die VSA het ook aansienlik gegroei onder AGOA. AGOA het direk tot werkskepping in Suid-Afrika bygedra.
Ten spyte van al hierdie ooglopende voordele, het President Cyril Ramaphosa besluit om te dobbel met die voorbestaan van AGOA in ruil vir die silwerstukke waarmee Iran die ANC se steun gekoop het.
Dit is verraad teen die mense van Suid-Afrika.
Willie Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ing. en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM
One Response
Dalk voel Ramaphosa dat Solidariteit en Afriforum “klein-verraad” gepleeg het, soos dislojaal wees teenoor mindere belangrike amptenaar of organisasie?
Hoogverraad se oorsprong is uit ou Europa as onderdaan dislojaal teenoor koning of koningshuis was. Ramaphosa is nie SA koning nie en ANC beslis nie koningshuis van SA nie.