Luister nou

VSA stoot terug teen Chinese invloed op elke vasteland

Deur Redaksie

Terwyl die wêreld se aandag op die verdiepende krisis in die Midde-Ooste is en die indruk bestaan dat die Trump-administrasie al sy energie op Iran toespits, dui ontwikkelings van die afgelope paar weke, en veral die afgelope paar dae, op iets veel groter. Van Mexiko en Kuba in Noord-Amerika tot Colombia, Venezuela, Peru en Chili in Suid-Amerika, en van Afrika tot die Midde-Ooste en Asië, is die Verenigde State van Amerika (VSA) besig om sy invloed uit te brei en China se groeiende teenwoordigheid doelbewus teen te werk.

Die Amerikaanse minister van energie, Chris Wright, het verlede week ʼn ooreenkoms met Saoedi-Arabië onderteken waarvolgens die VSA die land met die ontwikkeling van ʼn kernprogram sal ondersteun. Dit bevestig Saoedi-Arabië se toenemende samewerking met die VSA in ʼn tyd waarin China sy verhouding met Iran teen die koste van bande met verskeie Arabiese lande moet heroorweeg. Vir baie van dié lande bly Iran hul grootste veiligheidsbedreiging.

Terwyl dié ooreenkoms met Saoedi-Arabië gefinaliseer is, het president Donald Trump die afgelope twee weke onderskeidelik die staatshoofde van Irak en Libanon in die Withuis ontvang.

China het sy invloed die afgelope paar jaar aansienlik in Irak uitgebrei, veral deur noue bande met Sjiïetiese groepe wat deur Iran ondersteun word. Trump se ontmoeting met die Irakse eerste minister, Ali al-Zaidi, was daarom strategies belangrik. Verskeie ooreenkomste is tydens die besoek onderteken.

Die VSA werk reeds maande lank aan ʼn strategie om Irak nader aan die VSA en verder van China en Rusland af te beweeg. Die doel is om Chinese energie- en infrastruktuurooreenkomste geleidelik met breër Amerikaans-Irakse vennootskappe te vervang. Irak is vir die VSA van groot strategiese waarde vanweë sy enorme oliereserwes, sy sentrale ligging in die Midde-Ooste en die rol wat Amerikaanse betrokkenheid daar kan speel om Chinese invloed in die streek te beperk.

Die VSA neem ook die voortou in die vredesproses in Libanon, maar die doel strek verder as net vrede. Trump plaas tradisioneel sterk klem op die ekonomiese dimensie van buitelandse betrekkinge. Sy ontmoeting met die Libanese president, Joseph Aoun, het daarom nie net oor ʼn moontlike vredesooreenkoms met Israel gehandel nie, maar ook oor die VSA se langtermynbetrokkenheid in Libanon.

Libanon is vir die VSA strategies belangrik weens sy geopolitieke ligging, sy rol in die stryd teen Iran en die ekonomiese geleenthede wat toegang tot die Middellandse See en ʼn landkorridor deur Sirië na ander strategiese markte kan bied.

Terwyl Trump sy aandag op die Midde-Ooste vestig, was sy minister van buitelandse sake, Marco Rubio, die afgelope week eers op Kuba gefokus, waar die VSA die kommunistiese regime toenemend onder druk plaas. Daarna het Rubio na Manila in die Filippyne gereis om ʼn byeenkoms van die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (ASEAN) by te woon.

In Manila het hy onder meer met president Ferdinand Marcos jr. vergader om die noue samewerking tussen die twee lande verder te versterk. Rubio het ook met sy Russiese eweknie, Sergey Lavrov, vergader in ʼn poging om vredesonderhandelinge tussen Rusland en Oekraïne weer aan die gang te kry.

Die belangrikste deel van Rubio se besoek was waarskynlik die jaarlikse Quad-veiligheidsvergadering saam met sy ampsgenote van Japan, Australië en Indië. Hierdie lande, wat ook nou met bondgenote soos die Filippyne en Suid-Korea saamwerk, verdiep tans hul militêre koördinering in die Stille Oseaan met die primêre doel om China se invloed en dié van sy proksies, soos Noord-Korea, te beperk.

In Latyns-Amerika brei die VSA sy invloed nie net in Kuba en Venezuela uit nie. Deur die herlewing van die Monroe-leerstuk het die VSA byvoorbeeld die afgelope tyd in Panama daarop gefokus om te verseker dat die bestuur van strategiese hawens na Amerikaanse konsortiums oorgedra word. Dit was ‘n groot terugslag vir China.

Die Trump-administrasie was die afgelope maande ook betrokke by pogings om pro-Amerikaanse en pro-Trump regerings in Colombia, Peru en Chili aan bewind te kry. Terwyl al drie lande reeds stappe geneem het om nouer met die VSA saam te werk, is dit terselfdertyd ʼn terugslag vir China se invloed in Suid-Amerika. Die vasteland beskik oor groot voorrade kritieke en skaars minerale waarvoor die VSA en China tans meeding.

Donderdag het dit aan die lig gekom dat die VSA dit oorweeg om ʼn militêre operasie in Mali te loods. Die land gaan reeds jare lank gebuk onder geweld deur Islamitiese terreurgroepe. Die onlangse aankondigings oor die ontwikkeling van die Lobito-korridor bevestig ook die VSA se langtermynverbintenis tot Afrika. Daarbenewens is verskeie nuwe Amerikaanse ambassadeurs die afgelope week vir Afrikalande benoem.

Die magstryd tussen die VSA en China verdiep steeds. Waar China die afgelope twee dekades op die voorvoet was, stoot die VSA nou daadwerklik sterk terug. Of die VSA daarin gaan slaag, is nog onseker. Wat wel duidelik is, is dat daar groot geleenthede, maar ook beduidende risiko’s wêreldwyd in hierdie stryd vir talle lande en streke opgesluit lê.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweekhttps://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-76-24-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (23)

Wie is Brittanje se nuwe eerste minister?

Untitled design (22)

Jy hoef nie jou boorgat te registreer nie

Untitled design (21)

Vermiste vliegtuig ná 74 jaar gevind

Untitled design (20)

Jagluiperds na Zambië verskuif

Internasionale Perspektief nuut

VSA stoot terug teen Chinese invloed op elke vasteland

Ander Nuus Artikels

Untitled design (26)
Kom kyk hoe word ’n RWB Porsche gebou
Untitled design (27)
Druppels word strome, strome word riviere: KragDag 2026 bou momentum
Untitled design (25)
Naboomspruit gaan DorpToe!
Untitled design (23)
Wie is Brittanje se nuwe eerste minister?
Untitled design (22)
Jy hoef nie jou boorgat te registreer nie

Luister nou