Luister nou

VSA se buitelandse beleid terug op koers

Deur Redaksie

Koos Malan

Die Amerikaanse en Iranse regerings het op 19 Junie ’n ooreenkoms – ’n Memorandum van Verstandhouding – bereik. Hierin kom hulle  ooreen om die vyandelikhede tussen die VSA en Israel enersyds en Iran aan die ander kant te beëindig. Die vyandelikhede het ontstaan toe die VSA en Israel op 28 Februarie ’n groot deel van die Iranse regering in ’n lugaanval op Tehran uitgewis het.

Ondersteun VSA buitelandse beleid

Ek ondersteun die buitelandse beleid van die Trump-administrasie. President Trump het self die hoofbakens daarvan gedurende die verkiesingsveldtog geplant. Daarna het visepresident Vance dit in sy toespraak op 14 Februarie 2025 by die Münchense Veiligheidsberaad bevestig en die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het dit by dieselfde forum op 14 Februarie vanjaar uitgestippel. Dit is gevolg deur die gedetailleerde uiteensetting in die Nasionale Veiligheidstrategie wat einde 2025 gepubliseer is. Ek het gunstig hierop, onder andere in The Common Sense  kommentaar gelewer.

Die beleid:

  • bevestig onomwonde die VSA se bereidwilligheid om sy mags- en invloedsfeer in die Westelike Halfrond af te dwing;
  • reageer selfgeldend op die uitdaging van China as opkomende groot moondheid met aktiewe mededinging deur China as’t ware in sy streek vas te pen. Vir daardie doel bevorder die VSA ook hegte bondgenootskappe met moondhede in die Ooste insluitend Indië, Japan en Suid-Korea;
  • bevestig die VSA se identiteit, saam met Wes-Europa, as deel van die Westerse beskawing (nie slegs die Westerse militêre bondgenootskap – NAVO – nie) en aanvaar verantwoordelikheid om die Westerse beskawing te beskerm, onder andere deur Wes-Europa teen beskawingsuitwissing (civilizational erasure) vanweë onbeperkte migrasie van nie-Westerlinge te beveilig. Die bemoeienis met die Afrikaners pas in by hierdie besorgdheid oor die Westerse beskawing;
  • voer daarbenewens grootliks realpolitik. Dit beteken dat interstaatlike bande nie afhang van ideologiese of godsdienstige gemeenskaplikheid nie. Inteendeel, dit word gebou met die oog gemeenskaplike voordeel met ander state ongeag verskille. So kweek die VSA, veral nou onder Trump, hegte bande onder andere met Moslemstate, soos die Arabiese state in die Midde-Ooste, uiteraard nie omdat hulle godsdienstig en ideologies eensgesind is nie, maar omdat hulle praktiese belange deel. Hulle bevorder byvoorbeeld gesamentlik vrede en ekonomiese voordeel.
  • Opeenvolgende Amerikaanse regerings staan in vir die veiligheid van Israel. Dit word toenemend – juis deur die Trump-administrasie – op ’n realpolitik-grondslag gedoen, soos deur die Abrahams-akkoorde wat die VSA tussen Israel en etlike Arabiese state bewerkstellig het.

Oorlog ’n jammerte

Die uitbreek van die oorlog was betreurenswaardig omdat dit hierdie beleid van die Trump-regering op risiko geplaas het. Dit het energie gekanaliseer weg van die verdienstelike oogmerke van die beleid en dit geprojekteer op doelwitte wat die beleid nie ondersteun nie. Dit was nadelig vir die VSA se eie belange, vir die Weste en vir die Westerse faktor in Suid-Afrika, met inbegrip van die Afrikaners.

Buitendien was deskundiges soos proff. Robert Pape, John Mearsheimer, dr. Heinrich Matthee en ander, met wie ek saamstem, vanuit die staanspoor van mening dat die oorlogsvalke die strategiese situasie verkeerd gelees het, dat Iran veel sterker en hardnekkiger sou wees as wat die valke uitbasuin het en dat Amerika die risiko loop om ernstige aansienskade te ly.

Hierdie deskundiges was inderdaad volkome korrek terwyl die valke sleg misgetas het.

Daarom was dit gewens dat die VSA spoedig met eer uit die stryd moes onttrek sodat die VSA sy beleidsewewig kon herwin.

Dit is wat op 19 Junie gebeur het toe die ooreenkoms met Iran bereik is. Die ooreenkoms beslaan veertien 14 bepalings. Dit maak eerstens voorsiening vir ’n staking van vyandelikhede. Dit is wankelrig en is reeds verbreek. Nogtans is die kanse dat dit slaag goed, veral omdat albei partye ’n groot belang daarby het dat dit slaag. Hulle kan eintlik nie bekostig dat die oorlog hervat nie.

Uit ’n ontleding van die ooreenkoms (lees ’n volledige ontleding in Afrikaans hier) blyk veral drie dinge onteenseglik:

  1. Die ooreenkoms is besonder gunstig vir Iran. Dit stel onder andere die opheffing van alle sanksies wat sedert 1979 ingestel is in die vooruitsig; ’n bedrag van 300 miljoen dollar sal vir die herstel en ontwikkeling van Iran belê word, wat natuurlik nie net Iran nie, maar ook die beleggers sal bevoordeel.

 

  1. Die gunstige terme vir Iran dui daarop Iran nie naastenby militêr so uitgeput was soos valkepropaganda beweer het nie. Daarvolgens is nagenoeg 80 persent van Iran se hommeltuig- en missielvermoë binne die eerste dae van die oorlog vernietig. Nou blyk dit dat Iran steeds oor omtrent sewentig persent van hierdie vermoë beskik.

 

  1. Die VSA het klaarblyklik sy benadering van die afgelope 47 jaar teenoor Iran drasties vanaf stokke (sticks) na wortels (carrots) verander. Terwyl Iran, met reg, tot dusver as ’n aartsvyand militêr en ekonomies slae van die VSA moes verduur, word na dese gepoog om hom met voordele – wortels – gunstiger en derhalwe minder vyandig te stem.

Ofskoon die VSA klaarblyklik reputasieverlies gely het, is dit gelukkig beperk en kan dié land nou weer hopelik aandag aan sy verdienstelike buitelandse beleidsdoelwitte gee.

Vir die publiek is die belangrikste les uit die oorlog om bedag te wees op roekeloos bedrieglike propaganda wat op ons sentimente teer, maar verwyderd van die werklike gebeure staan.

Malan is ’n konstitusionele juris van Pretoria.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-73-03-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Rising Sun Newspapers

Die SAID sê alles verloop klopdisselboom

Fotokrediet: The Times of Israel

Reddingspanne red man na agt dae onder puin in Venezuela

Fotokrediet: EWN

Sterrekundiges ontdek twee reusagtige eksoplanete

Tsunami - die reddingshond - Venezuela

Tsunami red 13 uit aardbewingpuin

Fotokrediet: The Citizen

Munisipale bestuurder gewond in vermeende sluipmoordaanval

Ander Nuus Artikels

DevHoof
Polisie se langsdienende vlieënier vereer
Graffiti-logo-nuut
Boekeblad met Graffiti 3 Julie 2026
Fotokrediet: Rising Sun Newspapers
Die SAID sê alles verloop klopdisselboom
Fotokrediet: The Times of Israel
Reddingspanne red man na agt dae onder puin in Venezuela
Fotokrediet: EWN
Sterrekundiges ontdek twee reusagtige eksoplanete

Luister nou