Luister nou

Voel jy soms ’n bietjie bang?

Deur Pretoria FM Nuusspan

Alta Stauss

Dit gaan nie oor wat jy kan doen nie, maar oor wat jy sál doen.

Ons verwar so maklik daardie gevoel van vrees vir die onbekende met onvermoë. Terwyl daardie bang of angstige gevoel die meeste van die tyd nie ’n aanduiding is van ons bekwaamheid om ’n taak suksesvol uit te voer nie, maar bloot ’n vrees vir vreemde omstandighede. Dit kan ook iets wees wat ons onkant betrap of wat ons nog nie vantevore ervaar of gedoen het nie. Dus onderliggend aan hierdie vrees en twyfel, is die maatstaaf waaraan ons ons vermoë meet.

Meet jy jou vermoë aan dit waaroor jy geen beheer het nie, of wel beheer het? Meet jy jou vermoë aan wat jy kan doen, of aan wat jy sál doen wanneer jy gekonfronteer word met ’n uitdaging?

Dit is waarom dit belangrik is om ’n duidelike onderskeid te tref tussen die dinge waaroor ons beheer het en die dinge waaroor jy nie beheer het nie. Jou vermoë word gemeet aan dit waaroor jy beheer het: die Gees in jou. Daar sal altyd dinge in die lewe wees waaroor ons geen beheer het nie. Dinge soos verlies, verandering, mislukking of teleurstelling. Elkeen van hierdie dinge het ’n daadwerklike invloed en impak op ons menswees en ons lewe. Dit transformeer ons, maar dit definieer ons nie. Ons word nie gedefinieer deur dit wat met ons gebeur nie, maar hoe ons dit oorkom.

Verlies is seker een van ons grootste vrese en beslis een van die moeilikste dinge om te oorkom. Veral as die verlies baie na aan ons is. Hartseer is ’n woord wat te leeg is om die ware gevoel van verlies te beskryf. ’n Seer wat wegvreet aan jou binneste, jou verlam laat – jou lam laat. ’n Onreg so groot dat jy dit met jou hele wese wil ontken, in die hoop dat jy die lewe weer kan laat terugkeer na hoe dit vantevore was. Jy is kwaad vir jouself en vir almal rondom jou, want waarom moes dit gebeur? Waarom moes dit met jou gebeur? ’n Seer so ondraaglik dat jy dit niemand ooit toewens nie. ’n Seer wat elke dimensie van jou menswees, jou liggaam en siel penetreer en verteer. ’n Seer wat bly kolk en draai met al sy “wat as”-vrae in jou kop: Wat as ek dit of wat as ek dat gedoen het, dalk sou dit alles verander het of dalk sou dinge anders verloop het.

Jy wens jy kan net weggeneem word na ’n plek waar jy nie hierdie sieldodende verlies en leegheid hoef te ervaar nie. Jy wil alleen wees, want dit voel asof die druk van almal rondom jou net te veel is. Jy wil skree totdat jou asem opraak, maar die ding wat jy verloor het, kan niemand vir jou teruggee nie.

Die dag waarop jy hierdie verlies aanvaar, is die dag waarop jy dit oorkom. Dit is ’n moeilike ding om vrede mee te maak en te begryp, maar soms is dit presies hoe oorwinning lyk. Soms is oorwinning om dit te aanvaar wat jy nie kan verander nie. Aanvaarding is die krag van liefde. Om vas te hou aan die wete dat God jou liefhet en dat Hy jou nooit sal verlaat nie. Om te stoei met die Here. Soms soos Jakob, totdat dit jou mank laat (Genesis 32). Maar in die mankheid leer jy jou afhanklikheid van die Here. Om te weet dat wanneer jy swak is, is Hy sterk, en dat niks jou van sy liefde kan skei nie.

Soms maak verandering ons bang. Ons vrees die onbekende. Ons is bang vir dit wat ons nie weet nie. Dit waaroor ons nie volkome beheer het nie. Die vrae waarop ons nie antwoorde het nie. Dit is dan wanneer ons selfbeheersing moet toepas en kies om ons vrees vrywilliglik te konfronteer, eerder as om in ’n bondeltjie te gaan sit en ons wonde te lek, of weg te hardloop van die uitdaging. Om uitdagings te konfronteer, is om te wéét wie Christus is en te wéét wie ons in Hom is. Om te wéét dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Om te wéét dat, ongeag in watter vorm hierdie storm mag kom, of dit verandering, teleurstelling of mislukking is, dit jou nie definieer nie, maar jou transformeer in iets beter.

Die oomblik wanneer jy die omstandighede wat jy vrees, stormloop, verander dit van ’n onbekende na ’n bekende terrein en verloor dit die mag wat dit voorheen oor jou gehad het. Soms is die oorwinning, om op te tree en te probeer, nie in groot spronge nie, maar in klein treë. Selfvertroue word nie gebore uit dit wat jy suksesvol vermag het nie, maar die stille oorwinnings wat jy behaal oor dit wat jy eens op ’n tyd gevrees het. Die Here het ons nie ’n gees van vrees gegee nie, maar ’n dinamiese gees van wees en wording. God is nie die groot “ek was” nie, maar die groot “EK IS”. Hy is altyd in die nou en in die toekoms. Hy dink nie aan jou verlede nie.

Daarom lê die krag van oorwinning daarin om te weet dat Hy die goeie werk wat Hy in jou begin het, sal volbring. Ons moet daagliks in geloof werk na die toekoms en plan wat Hy vir ons uitgewerk het. Wetend dat Hy alreeds daar is en ons daar saam met Hom sal wees. Sterker en wyser as wat ons is nou.

Wees lief genoeg vir jouself om te waag. Die keuse om die eerste stap in die regte rigting te gee, is meer belangrik as om presies te weet hoe die eindbestemming lyk. Leer om na uitdagings in jou lewe te kyk as uitnodigings. Kies om op te daag en te vra wat jy uit ’n situasie kan leer. Met elke tree wat jy vorentoe gee, raak die eindbestemming duideliker en raak dit makliker om die volgende tree te gee.

Dapperheid is om te doen, al is jy bang. Waagmoed is nie wat jy kan doen nie, maar wat jy sál doen. Die Here beloof om ons te seën met meer as wat ons ooit voor kan hoop, bid of vra, wanneer ons kies om te volhard en deur te druk wanneer ons geloof getoets word. Dit is hoe ons oorwin. Dit is hoe ons groei.

Strauss is ’n motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek- https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-69-05-11-Jun-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Ernst Roets

Lex Libertas aan Roelf Meyer: Wees eerlik

Liam Jacobs

Te vroeg om Liam Jacobs se invloed op kiesers te bepaal

Dawie Roodt

Invloed van brandstofpryse moontlik eers oor twee jaar sigbaar

Bennie van Zyl

Regering het boere gefaal

Jacques Broodryk

10 plaasaanvalle in Mei

Ander Nuus Artikels

SANBS-1024x724
Burgemeesterskandidate, Vodacom Bulls en sangers deel van Pretoria FM se Boei en Bloei-bloedskenkdag
River
Hoop stroom oor ná River se redding
Ernst Roets
Lex Libertas aan Roelf Meyer: Wees eerlik
Liam Jacobs
Te vroeg om Liam Jacobs se invloed op kiesers te bepaal
Dawie Roodt
Invloed van brandstofpryse moontlik eers oor twee jaar sigbaar

Luister nou