Luister nou

Truratligte by ‘n e-tolhek

Deur Pretoria FM Nuusspan

James Kemp

Teen die tyd wat jy die verkeer by die tolhek begin trotseer, het jy al ‘n goeie rits frustrasies oorkom. Daar is die verkeerslig wat weereens buite werking is wat die oorgang by die kruising ‘n ewigheid laat duur. En daar sal mos nie vanoggend ‘n puntsman wees nie, wat beteken dat jy en elke ander motoris in jou betrokke voorstad aan hulle eie genade en goeie maniere uitgelewer is.

Jou gedagtes flits terug na die klein oorwinnings wat jy reeds die oggend behaal het: die ontbyt wat jy in jou vierjarige se keelgat af het sonder dat enige van die Weetbix op jou beland het, dat jy dit by die voordeur uitgemaak het sonder dat jou hond ‘n modderpootmerk op jou chino los en die feit dat die motorhuisdeur oopgaan, wat beteken dat jy onthou het om gisteraand voorafbetaalde elektrisiteit te laai. Jy het dit self onthou. Jou vrou se herhaaldelike vermaning was blote toeval.

Oor die eerste kruising kom jy die eerste minisbustaxi teë. Hy het teen ‘n reusespoed ‘n onwettige u-draai gemaak, byna drie voetgangers bokveld toe gestuur, waarna hy jou links van die geelstreep verbysteek. Jy kyk moedeloos toe hoe die een na die ander dieselfde doen. Later sien jy ander motoriste, een wat jy herken van jou dogtertjie se kleuterskool, dieselfde doen. Vir ‘n oomblik oorweeg jy dit om in ‘n stadium ‘n meningstuk te skryf oor hoe wetteloosheid deur wetteloosheid aangewakker word. Die eerste paar keer vloek jy die ongeskikte minibustaxi hardop in jou voertuig maar na ‘n paar keer besef jy dat hy homself aan ‘n ander stel reëls onderwerp. Motoriste het waarskynlik die eerste keer versigtig op dieselfde manier besluit om ‘n voorsprong in die druk verkeer te kry waarna hulle besef het dat hulle nie aan enige vervolging onderwerp word nie en dit deel van hulle daaglikse roetine gemaak het.

Maar jy staan sterk en beur voort. ‘n Interessante gesprek op Pretoria FM trek jou aandag bietjie af en Susan Botha en Leon Gropp se geskerts maak die verkeer ‘n bietjie meer draaglik.

Jy sien al die draai na die N1-snelweg en weet verlossing is naby. As jy net eers op die snelweg kan kom, is jy vir die volgende paar kilometer verseker dat jy darem ‘n paar kilometer per uur vinniger sak kan beweeg as nou. Verder verseker die e-tolskryfie dat jy nie in die ry betalendes beland nie.

En dan is dit skielik voor jou. Daai gesig wat jou moed tot in jou skoene laat sak. Dit wat al jou geduld, deursettingsvermoë en selfbeheersing om tot hier te kom, ongedaan maak. Daardie wit ligte van ‘n motor in trurat by ‘n e-tolhek. En jy weet daar is geen manier dat hy vorentoe gaan beweeg nie. Geen manier dat ‘n tolhekoperateur hom sal deurlaat nie. Die enigste manier is agteruit en die gevolglike ontwrigting van al die motors agter hom.

Dit is presies hoe ek voel as ek president Cyril Ramaphosa oor internasionale beleid hoor praat.

Kemp is die stasiebestuurder van Pretoria FM.

Gewilde Nuus

AfriForum

AfriForum ondersoek brandstofheffings self

V (3)

Minder reise gaan lei tot minder vulstasies

V (2)

Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit

Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.

Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek

Internasionale Perspektief nuut

ANC se linkse vriende val een ná die ander

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: EWN
Die ANC se dispuut word vandag aangehoor
Padlangs
Kragdadigheid van ’n boer
Israel
7 Oktober: Waar bevind die wêreld hulself 3 jaar later?
AfriForum
AfriForum ondersoek brandstofheffings self
V (3)
Minder reise gaan lei tot minder vulstasies

Luister nou