8 Februarie 2025
Die voorsitter van die Solidariteit-beweging, Flip Buys, sê hy gaan dringend ‘n gesprek met president Cyril Ramaphosa aanvra en na Amerika reis om gesprekke met Withuis-verteenwoordigers te voer.
Dit volg op president Donald Trump se uitvoerende bevel rakende Suid-Afrika se buitelandse beleid, onteiening, rasgebaseerde beleid en die repatriasie van Afrikaners.
Die bevel behels ook die sny van alle befondsing aan die land. Hy het aangekondig dat vlugtelingstatus aan Afrikaners in Suid-Afrika beskikbaar is, nadat Ramaphosa die Onteieningswet onderteken het.
“Ons was nie bewus daarvan dat Trump hierdie bevel sou uitreik nie. Die ANC het oor jare ‘n roekelose binnelandse en buitelandse beleid gevolg, wat daartoe gelei het dat hulle die wêreld se grootste ekonomie en een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote vervreem het.”
Buys sê gewone Suid-Afrikaners moet nie die prys betaal vir diplomatieke geskille en die ANC se roekelose beleid nie. Die onttrekking van hulp kan ernstige maatskaplike gevolge en verhoogde werkloosheid tot gevolg hê.
Hy sê Solidariteit se boodskap aan presidente Ramaphosa en Trump is dat Afrikaners self hulle probleme in Suid-Afrika wil oplos.
ActionSA se leier, Herman Mashaba sê intussen dit is verstommend dat Ramaphosa nie self die situasie rondom Amerikaanse sanksies teen Suid-Afrika hanteer nie.
Hy sê die gevaar is nou maatskaplike disharmonie in die land.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het intussen gereageer en sê die bevel is nie gegrond op feite nie.
Die departement meen die bevel maak geen melding van “Suid-Afrika se tragiese verlede van kolonialisme en apartheid nie.”