Luister nou

Hoe ʼn slegte besluit of twee ʼn wenoorlog op sy kop gekeer het

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Daar word die afgelope weke wêreldwyd, en natuurlik in Suid-Afrika lang argumente gevoer oor wat ʼn reusefout die Amerikaners en Israel begaan het om Iran aan te val. Die meeste van hierdie argumente herhaal bloot anti-Amerikaanse, anti-Trump en pro-Iran propaganda, bou voort op valse persepsies oor ontwikkelinge in die Midde-Ooste die afgelope paar jaar en misken wat werklik aanvanklik in die oorlog gebeur het. Wat egter wel nou, drie maande nadat die eerste aanvalle uitgevoer is, duidelik word, is dat enkele swak strategiese besluite deur die Withuis ʼn wenoorlog op sy kop gekeer het wat dreig om ʼn langdurige krisis rondom die Seestraat van Hormoes te laat ontwikkel, maar erger nog, die omstandighede te skep waarin Iran weer oor die volgende paar jaar kan herbewapen en herbou.

Dit is daarom tog belangrik om net weer te gaan kyk wat tydens die aanvanklike militêre operasie van die VSA en Israel gebeur het. Binne ʼn minuut nadat Operasie Epic Fury op 28 Februarie begin het, is die ajatolla en byna al sy senior leiers in lugaanvalle dood. Binne enkele dae is Iran se lugafweerstelsels en die grootste dele van Iran se lugmag, vloot, militêre basisse, kernaanlegte, wapenvervaardigingsaanlegte en intelligensiestrukture vernietig. Om dit in ʼn massiewe land (geografies), met ʼn groot en gesofistikeerde bevolking, ervare politieke en militêre leiers, en ʼn regime wat jare lank hiervoor voorberei het, te kon regkry maak dit wat tydens die eerste dae van Operasie Epic Fury gebeur het, selfs meer merkwaardig. Bewerings oor Amerikaanse militêre mislukking in Iran is dus ongegrond.

Die ander argument wat nie water dra nie, is die herhaaldelike onderspeling van die motief vir die VSA en Israel se aanvalle. Hier vergeet mense gemaklik Iran se herhaalde oortredings oor die jare heen van ooreenkomste oor sy kernprogram. Gaan lees gerus net wat die huidige hoof van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) hieroor geskryf het. Die kritici ignoreer egter ook die skrikbewind wat Iran deur sy proksies oor jare in Irak, Sirië, Libanon, Israel en die Palestynse gebiede, Jemen en enkele ander lande veroorsaak het. Iran het daardeur indirek ʼn reuserol in massageweld, burgeroorloë, sektariese konflik en die ontwrigting van ekonomiese aktiwiteite in onder andere die Rooisee en die Seestraat van Hormoes veroorsaak. Iran was verantwoordelik vir massaterreur in die Midde-Ooste oor jare. Iran was ook indirek verantwoordelik vir die Hamas-terreuraanval in Oktober 2023 op Israel.

Daar word deur die kenners, akademici en leuenstoelkommentators niks meer gesê oor die jarelange brutale onderdrukking van enige opposisie in Iran nie. Desember en Januarie se bloedbad word bloot onder die mat ingevee en dit nadat Trump ʼn duidelike ultimatum aan Iran gestuur het om nie hulle eie mense dood te maak nie. Daar was meer as genoeg rede vir die VSA en Israel om op die regte tydstip die streep te trek en die ekstremiste in Teheran uit te haal.

Die VSA moes egter gereed gewees het om hulle aanvanklike briljante lugaanvalstrategie op te volg. Hulle moes Iran se sluiting van die Seestraat van Hormoes, nie deur reuse- Irannese vlootskepe (wat alles vernietig is nie) maar deur ʼn klein en ratse groep terroriste van die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps met klein bote, kon voorsien. Hulle moes ingekoop het op Israel se jarelange beplanning vir die ondersteuning van die Koerde om vanuit die weste deur Irak ʼn opstand te lei. Wanneer ʼn 14 dae skietstilstandooreenkoms egter ʼn 30 dae een, dan ʼn 60 dae een raak, dink die vyand dat hy die oorhand kry.

Amerika se opvolgstrategie was beperk tot die sluiting van Iran se hawens deur die Amerikaanse vloot. Dit is tot vandag ʼn baie suksesvolle strategie en Iran se ekonomie is aan flarde met hiperinflasie, miljoene werksverliese, tekorte aan valuta, produkte en dienste, én ʼn onvermoë om meer as 70% van Iran se olie uit te voer.

Ongelukkig sou hierdie Amerikaanse strategie net geslaag het, indien hulle die Seestraat van Hormoes met brute mag kon heropen. Olietenkskepe moes eenvoudig deur die seestraat vergesel word en Iran se bluf moes uitgeroep word toe hulle gedreig het om die VSA se vlootskepe aan te val sou hulle met mag probeer om die seestraat te heropen.

Terwyl Iran militêr en ekonomies aan flarde is, is die hardekoppe wat nou in beheer is in Teheran besig om te hergroepeer en die Amerikaners gee hulle al die tyd op aarde om dit te doen. Missiele word herbou, nuwe lugafweerstelsels word uit China in gesmokkel en aanvalshommeltuie word weer regoor Iran aanmekaargesit.

Trump het ongelukkig ʼn te groot liefde vir die Pakistani’s ontwikkel en het toegelaat dat Pakistan se militêre leiers hom aan die neus rondlei en hom ontmoedig om Amerikaanse opvolg militêre optrede goed te keur. Waarom Trump ook Israel se plan om die Koerde vanuit Irak met ʼn opstand te ondersteun (wat wapens en lugondersteuning sou insluit), afgekeur het, maak ook geen sin nie.

Uiteindelik kan Iran so verswak wees soos wat dit vandag is. Die druk van vernietigende internasionale ekonomiese gevolge weens die sluiting van die seestraat begin die toon aangee in enige onderhandelinge. Trump sal binnekort ʼn haas uit die hoed moet pluk, wat hy soms regkry, om ʼn ooreenkoms te sluit wat Iran se vermoë weerhou om na sy gevaarlike posisie van vóór die oorlog terug te keer. Die enigste twee alternatiewe is hernude oorlog, waarvoor daar nou geen internasionale aptyt meer oor is nie (hoewel dit dalk net die mees logiese opsie mag wees) of ʼn baie swak ooreenkoms wat aan ʼn byna verslane Iran se meeste eise toegee. ʼn Paar moeilike weke lê duidelik vir die Withuis voor.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek– https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/05/Uitgawe-68-29-Mei-04-Jun-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou