Luister nou

Taliban-oorname in Afganistan nog ‘n terugslag in stryd teen terreurgroepe

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 17 Augustus

Deur: Jaco Kleynhans

Die vinnige oorname van Afganistan die afgelope paar weke deur die Taliban is ‘n groot vernedering vir die VSA en ander Westerse lande wat sedert 2001 ‘n stryd probeer voer het om die Taliban te verslaan en demokrasie en vrede in dié land te verseker. Die afgelope naweek was dit egter duidelik dat die hele poging misluk het.

Die Taliban wat Afganistan vanaf 1996 tot 2001 met ‘n Islamitiese ystervuis regeer het, het teen Sondagaand beheer oor die presidensiële paleis in Kaboel verkry nadat President Ashraf Ghani na ‘n buurland gevlug het.

Sedert die regering van President George W. Bush in November 2001 oorlog teen die Taliban verklaar het, het die VSA, en tot ‘n mindere mate Navo-bondgenote uit Europa alles in hulle vermoë gedoen om die Taliban uit Afganistan te verdryf en die land by te staan om ‘n stabiele regering en weermag daar te stel.

Die Amerikaans-geleide oorlog in Afganistan is gemotiveer deur die Taliban se ondersteuning aan die terreurgroep Al-Kaïda en sy leier Osama bin Laden. Die waarheid is natuurlik dat Bin Laden kort na die uitbreek van die oorlog in Afganistan reeds dié land verlaat het en in Pakistan gaan skuil het waar hy in 2011 deur die Amerikaners gevind en dood gemaak is. Al-Kaïda was en is steeds ‘n terroriste-organisasie wat oor landsgrense heen funksioneer en was nooit tot een land se grense beperk nie.

Die Amerikaners het teen ‘n enorme koste 300 000 soldate in Afganistan opgelei en met wapens en ammunisie toegerus. ‘n Moderne lugmag is ook met die hulp van die Amerikaners daargestel. Die oorlog in Afganistan het Amerika meer as twee biljoen dollar gekos. Tog is dit duidelik dat dit alles tevergeefs was soos wat die Afgaanse weermag die afgelope paar dae in duie gestort het en Amerikaanse vegvliegtuie, helikopters, gepantserde voertuie en groot hoeveelhede wapens en ammunisie in die hande van die Taliban beland het.

Die groot vraag is nou of die Taliban weer ‘n veilige hawe vir terreurgroepe in Afganistan gaan skep. Ten spyte van die dood van Bin Laden in 2011 het Al-Kaïda die afgelope paar jaar daarin geslaag om veral in die Sahel-streek in Noord-Afrika te herorganiseer.

Frankryk se onlangse aankondiging dat die Franse weermag sy 5000 soldate uit die Sahel-streek gaan onttrek, nadat Frankryk die afgelope dekade terreurgroepe wat aan Al-Kaïda en die Islamitiese Staat geaffilieer is, sonder sukses daar beveg het, is nog ‘n rede om ernstig bekommerd oor die herorganisering van Islamitiese terreurgroepe te wees. Lande soos Mali, Burkina Faso, Niger en die noordelike dele van Nigerië word tans as ‘n veilige hawe deur terreurgroepe gebruik.

Sedert die terreuraanvalle op 11 September 2001 in die VSA, is Amerika en sy bondgenote in Navo besig om die stryd teen Islamitiese terreurgroepe in die Midde-Ooste en Afrika te voer. Die afgelope tyd se gebeure in onder andere Afganistan en die noorde van Afrika dui op ‘n mislukking. Daar is goeie rede om nou te vrees vir ‘n sterk heropbou van Islamitiese terreurgroepe en Westerse lande se kommer vir hernude terreuraanvalle in die VSA en Europa is heeltemal geregverdig.

Hou Afrikaans op die lug

Klik hier

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Veterane

Veterane tree nou ook op YouTube aan

Willie 2

Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Ernst Roets

Roets aanvaar parlement se uitdaging

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: The Banking Association South Africa
Tesourie waarsku oor munisipaliteite se wanbetaling
Padlangs
Wanneer regstelling ’n rookskerm word
The Perfect Blendship headshots with piano
The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Luister nou