14 Januarie 2025
Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), sê die 2024-matriekgroep is die tiende jaargroep wat die Nasionale Senior Sertifikaat eksamens in die Kurrikulum en Assesseringsbeleidverklarings, (KABVS) afgelê het.
Die vakbond meen die feit dat dit reeds die tiende jaar groep is wat dié eksamen aflê, het die geleentheid gebied om hierdie groep teen ‘n geloofwaardige en betroubare standaard te meet.
Volgens die SAOU se uitvoerende beampte, Paul Sauer, het hierdie groep leerders hulle eie uitdagings gehad, waarvan COVID-19 maar een van die bydraende faktore was. Hy meen ten spyte hiervan, het hierdie groep leerders met harde werk en deursettingsvermoë, uitstekend presteer.
Sauer sê die NSS-uitslae is ‘n eksterne evaluering waarmee die stelsel in totaliteit gemeet word. Hy meen die konstante verbetering oor die afgelope vyf jaar dui dus aan dat die stelsel besig is om te groei en te verbeter.
“Die SAOU moet egter ook weer verwys na die twee eksterne verslae wat aan die einde van 2024 vrygestel is. In hierdie verslae is daar egter aangedui dat die vaardighede van leerders ten opsigte van Wiskunde en Wetenskap baie swak vergelyk met internasionale standaarde,” sê Sauer.