President Cyril Ramaphosa het plaaslike owerhede aangeraai om slegs kundiges in sleutelposte aan te stel, eerder as om mense op grond van gewildheid te kies.
Die president vergader met leiers van al drie sfere van die regering by die Presidensiële Koördineringsraad in Boksburg.
Ramaphosa sê dat die doel van die vergadering daarop gemik is om alle regeringsvlakke bymekaar te bring om die wateraksieplan se implementering te verbeter. Hy beklemtoon dat burokrasie uit die weg geruim moet word om ekonomiese vordering te versnel.
Ramaphosa het vroeër vanjaar aangekondig dat ’n Nasionale Waterkrisiskomitee geskep word in reaksie op voortslepende probleme met waterverskaffing.
Hy sê dat die huidige stelsel te kompleks en gefragmenteer is, waar daar van munisipaliteite wat onderbefonds is verwag word om verantwoordelikhede op te neem waarmee hul nie vertroud is nie. Die vergadering het ’n kort rukkie gelede begin.
Volgens Ramaphosa is daar “aansienlike vordering” oor die afgelope drie dekades van demokrasie met die uitbreiding van toegang tot water gemaak. Hy sê dat die laaste sensus wat in 2022 gedoen is daarop dui dat meer as 82% huishoudings toegang tot water het, teenoor 61% in 1996.
“Wateronderbrekings het egter ook meer gereeld plaasgevind met meer as 34% van huishoudings wat in 2024 wateronderbrekings ervaar het,” sê Ramaphosa.
Ramaphosa het vyf sleutelbeginsels wat hul gesamentlike poging moet lei soos volg uiteengesit:
- verantwoordbaarheid moet herstel word;
- die finansiële integriteit van waterdienste moet beskerm word;
- tegniese en professionele vermoë moet versterk word om volhoubare infrastruktuur te verseker;
- konsekwente bestuur moet toegepas word waar daar volgehoue mislukking is;
- die samewerkende bestuur moet prakties toegepas word sodat daar noue skakeling met belangrike belanghebbendes in elke plaaslike regeringsgebied kan wees.