Die burgerregteorganisasie, AfriForum sê hy verwerp die polisieminister, Senzo Mchunu se “afmaak van plaasmoorde” toe hy verlede week die misdaadstatistiek bekend gemaak het.
AfriForum sê Mchunu se bewering dat slegs een boer tussen Oktober en Desember 2024 in Suid-Afrika vermoor is, “is feitelik verkeerd en minag die werklike, voortdurende krisis van plaasaanvalle en -moorde in die land.”
AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk sê tussen Oktober en Desember 2024 het daar volgens hul statistiek 10 plaasmoorde plaasgevind, vyf plaaseienaars, een plaasbestuurder, drie werknemers en een veiligheidswag.
LEES OOK: 9,8% minder moorde in derde kwartaal gepleeg
Broodryk sê Mchunu se misleidende stelling is ’n growwe wanvoorstelling van die werklikheid op grondvlak en ’n belediging vir die slagoffers en hul families.
Hy sê slegs enkele dae voor Mchunu se uitlatings is ’n bejaarde egpaar wreed in hul plaashuis buite Stanford in die Wes-Kaap aangeval. Broodryk meen hierdie aanvalle is nie geïsoleerde voorvalle nie – dit is deel van ’n groter, voortdurende patroon van geweld teen boerderygemeenskappe wat dringende aandag verg.
“Hierdie opmerkings deur Mchunu is teleurstellend en heeltemal onverantwoordelik. Houdings soos hierdie is deel van die probleem, deur die erns van plaasaanvalle te probeer afmaak eerder as om dit aan te roer met die dringendheid wat dit verdien, blyk dit dat die minister politiek speel. Misdaad is nie ’n politieke spel nie – dit is ’n nasionale krisis wat sterk leierskap vereis, nie ontkenning nie,” sluit Broodryk af.
2 Responses
Mens kan mos sien wie betaal sy salaris en natuurlik ons siek mefis wat net feite verdraai om die anc te pas
Verskoon die man, hy tel net soos Zuma! Dan is hy nog so verwaand en onnosel om te se Afiforum moet met die bewyse kom, Afiforum sit met die bewyse wat in elk geval jou en die vrot regering se naam net weer g”* gaan maak!!!! Hoe vlak kan hy net nie wees nie! Née kyk, die ANC en hul kaders nou soos n kat op n warm plaat. Ons het nou lank genoeg stil gebly! Nou is die tyd ryp vir aksies!