Jaco Kleynhans
President Donald Trump dreig tans die British Broadcasting Corporation (BBC) met ʼn siviele eis van $1 miljard tensy dié uitsaaier om verskoning vra en homself distansieer van sy onlangse Panorama-dokumentêr, waarin dele van ʼn Trump-toespraak van 6 Januarie 2021 so gemanipuleer is om die indruk te skep dat Trump sy ondersteuners aangemoedig het om geweld te pleeg.
Deur fragmente uit die toespraak te sny en saam te voeg, het die BBC die oorhoofse boodskap van Trump se toespraak totaal verdraai. Dit is nie die eerste keer wat die BBC hom aan subjektiewe vooroordele in sy nuusberiggewing skuldig maak nie. Trump is net ʼn ander soort vyand en hy gaan nie rus totdat die BBC ʼn duur prys betaal nie. Twee senior bestuurslede van die BBC het reeds weens die skandaal bedank, maar die storm wil maar net nie gaan lê nie.
Die BBC is ʼn reuse- en uiters invloedryke uitsaaier wat hoofsaaklik uit TV-lisensiegeld befonds word. Alle Britse huishoudings, sake-ondernemings en organisasies word verplig om hierdie fooi te betaal, wat vroeër vanjaar na ʼn allemintige £174,50, oftewel R4 000 per huishouding per jaar gestyg het.
Die lisensiegeld dek byna 80% van die BBC se inkomste en sal vanjaar byna £4 miljard beloop. Advertensie-inkomste sal na verwagting £1,5 miljard wees, terwyl die BBC verder toelaes van meer as £100 miljoen per jaar van die Britse regering ontvang. Die BBC is die wêreld se toonaangewende nuusverskaffer, wat met die grootste begroting in die bedryf werk.
Vir baie Britse huishoudings is die lisensiegeld van R4 000 per jaar egter ʼn beduidende las op hul begrotings, veral gegewe die wye reeks alternatiewe media wat beskikbaar is. Politieke druk van regs neem ook toe om die BBC te privatiseer.
Geldige vrae word wêreldwyd gevra oor die voortgesette behoefte aan ʼn openbare uitsaaier. Argumente ten gunste van openbare uitsaaiers het in die verlede op die belangrikheid van nuusinsameling, ondersoekende joernalistiek en deeglike beriggewing, sowel as toegang tot nuus, gefokus. Tegnologie het egter die medialandskap dramaties verander; vandag is dit makliker en goedkoper om nuus enige plek in die wêreld saam te stel, te kommunikeer en te ontvang. Geen duur ateljees, uitsaaitoerusting of rolperse is meer nodig nie – ʼn slimfoon en internetverbinding kan van enigiemand ʼn nuusverslaggewer maak.
Die hoofstroommedia se argument teen nuwe en alternatiewe media oor die afgelope paar jaar het natuurlik gedraai om geloofwaardigheid, objektiwiteit, joernalistieke kundigheid en vermoë, en al die mooi eienskappe wat tradisionele joernaliste hulself vir lank toegedig het. Hierdie wolf-wolf-geskreeuery was natuurlik ʼn poging om hul eie ruimte te beskerm, maar dit het ook ʼn totale onderskatting van gewone mense se vermoë om tussen betroubare en onbetroubare bronne te onderskei, weerspieël.
Soos wat die wêreld van nuwe en alternatiewe media ontwikkel, vind daar ook ʼn groot uitskud plaas. Gewone mense ontwikkel toenemend die vermoë om bronne te evalueer, feite na te gaan en fopnuus te identifiseer.
Dit plaas natuurlik die ou hoofstroommedia in ʼn bestaanskrisis. Nie net openbare uitsaaiers soos die BBC, die PBS in die VSA of die SABC in Suid-Afrika verkeer in ʼn krisis nie, maar ook gevestigde hoofstroom- kommersiële media-instellings wat nie met die nuwe en alternatiewe media kan of wil meeding nie.
Die hoofstroommedia weier egter meestal om selfondersoek te doen. ʼn Groot deel van hul verlies aan geloofwaardigheid spruit uit hul eie foute, vooroordele, intellektuele snobisme en jare se subjektiewe beriggewing.
Openbare uitsaaiers – in Brittanje, elke Europese land, die VSA, Suid-Afrika en elders – het oor baie dekades ʼn duidelike links-liberale vooroordeel geopenbaar in plaas daarvan om objektiewe nuus te verskaf. Nou dat alternatiewe nuusbronne soos paddastoele opspring, skrik hulle skielik wakker en probeer hulle beheer oor hul verlore domein herwin deur meer regulasies en ‘n aanslag op die geloofwaardigheid van nuwe media.
Vroeër vanjaar het openbare verhore in die Amerikaanse Kongres talle voorbeelde aan die lig gebring van hoe die Amerikaanse Public Broadcasting Service (PBS) en National Public Radio (NPR) oor jare progressiewe narratiewe in hul beriggewing gevestig het. In Kanada is die situasie soortgelyk met die Canadian Broadcasting Corporation (CBC). Die CBC se dekking van die 2022-staking van vragmotorbestuurders in Ottawa het stakers en betogers as “regse ekstremiste” gebrandmerk, terwyl die regering se drakoniese optrede as heroïes uitgebeeld is – totaal bevooroordeeld.
Selfs die Japannese openbare uitsaaier NHK, wat as meer neutraal beskou word, het in sy onlangse dekking van internasionale handelsoorloë ʼn neiging getoon om Westerse liberale standpunte netso te herhaal.
Openbare uitsaaiers gaan óf moet uitsterf óf privatiseer. In Suid-Afrika sien ons reeds die reusekrisis by die SABC, wat tegnies bankrot is en nie meer geld het vir toiletpapier, gloeilampe en die herstel van roltrappe nie. Dink net watter potensiaal ontsluit kan word indien sommige van die SABC se radiostasies geprivatiseer word.
In ʼn era waar slimfone en die internet elke sekonde van elke dag toegang tot nuus bied, het die lomp en duur struktuur van hoofstroommedia onvolhoubaar geword. Hulle sal moet verander of sneuwel. Dit is die enigste twee opsies.
Die BBC se skandaal was waarskynlik die laaste strooi. Die tyd het aangebreek om openbare uitsaaiers te sluit of te privatiseer en vir hoofstroommedia om rekenskap te gee aan hul lesers, luisteraars en kykers – anders sal hulle ook hul bestaansreg in die toekoms verbeur.