Luister nou

Ontkenning van plaasmoorde dui op morele verval

Deur Pretoria FM Nuusspan

Deur: Ernst van Zyl 

Op Vrydag 21 Maart (Menseregtedag) het Julius Malema, leier van die EFF, dit goedgedink om op ’n verhoog te verskyn en weereens die haatlike “Kill the Boer”-dreunsang uit volle bors te sing. Op hierdie einste Menseregtedag is ’n boer naby Thaba Nchu in die Vrystaat vermoor.

In 2023 deel AfriForum die nuus dat ’n plaasaanval op ’n egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal uitgevoer is. Hulle is ernstig op hul plaas aangerand terwyl hul aanvallers “Kill the farmer, kill the Boer” geskree het. Die vroulike slagoffer is met ’n spies gesteek, maar albei het die aanval gelukkig oorleef. Danksy die plaaslike boeregemeenskap en burgerlike veiligheidstrukture se vinnige reaksie, is ses verdagtes aangekeer.

Iets anders het egter met die publikasie van hierdie gruwelstorie gepaard gegaan wat my maag laat draai en my bloed laat kook het: ontkenning. Siek ontkenning deur mense wat hierdie arme slagoffers leuenaars genoem het nog voor die bloed op hul plaashuis se vloer eens droog was.

Dieselfde verskynsel van die ontkenning van plaasmoorde het weer die afgelope twee maande begin kop uitsteek sedert die Trump-administrasie opnuut op hierdie kwessie aandag gevestig het.

Dié soort gedrag spreek van ’n dieper kwessie, ’n morele kwessie – meer spesifiek morele verval.

Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar die slagoffers doodeenvoudig as leuenaars afgemaak word? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waaroor joernaliste op sosiale media grappies maak? Die algemene redakteur van Daily Maverick, Richard Poplak, het byvoorbeeld in 2023 op sosiale media spottend gevra: “Watter wyn gaan die beste saam met wit volksmoord?” Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar diegene wat bewusmaking doen, beledig, bespot en belaster word? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar onredelike vlakke van bewyse geëis word? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad wat deur politici aangemoedig en verromantiseer word met dreunsange soos “Kill the Boer”? Hoekom is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad waar party se onmiddellike reaksie is om diegene wat omgee oor die kwessie, haastig te probeer stilmaak deur Suid-Afrika se algemene moordstatistiek soos ’n mantra aan te haal? Niemand herinner aktiviste teen renosterstropery dat uit die totale hoeveelheid diere wat sterf elke jaar, renosters ’n piepklein persentasie is nie. Niemand sal ’n persoon wat diep omgee oor geslagsgeweld in die oë kyk en sê hulle saak is ongeldig omdat die oorgrote meerderheid van moordslagoffers mans is nie.

Plaasmoorde is ook die enigste geweldsmisdaad van ’n unieke aard wat die regering weier om onder Nasionale Prioriteitsmisdade te klassifiseer – misdade wat ’n  gespesialiseerde teenstrategie kry – soos uiteengesit deur die Polisiewet. Renosterstropery, bendegeweld en geslagsgeweld is voorbeelde van prioriteitsmisdade.

Laastens is plaasmoorde die enigste geweldsmisdaad wat openlik deur die president van Suid-Afrika ontken word. In 2018 het president Ramaphosa vanaf ’n internasionale verhoog gesê: “There are no murdering of white farmers in South Africa.” Hierdie blatante leuen is nog nooit teruggetrek nie. Verbeel jou ’n Suid-Afrikaanse president verklaar aan die wêreld dat daar geen geslagsgeweld of politieke sluipmoorde in sy land plaasvind nie. Sou hulle dáármee wegkom sonder gevolge?

Al logiese verduideliking vir al die bogenoemde vrae, is dat baie mense die slagoffers geword het van morele verval. ’n Tipe morele verval wat verdra en verskoon word.

Ek het grootgeword in ’n landbougemeenskap. Die meeste van my vriende het van plase af gekom, wat beteken ek het as kind baie tyd op plase deurgebring. Ek is van kindsbeen af blootgestel aan boerdery. Soos Dirk Hermann al geskryf het: “(Baie van) hulle bly dalk nie op plase nie, maar daar is ’n stukkie plaas in elke Afrikaner.” Dr. Wikus Buys sê daar is ’n rede dat Engelssprekendes praat van ’n “yard”, terwyl Afrikaners ’n “agterpláás” het. Ons kultuur is só met boerdery verweef dat ons kollektief bekend staan as die Boere.

Afrikaners wat nie self boer nie, het familie of vriende wat boer. Daar is dus ’n inherente rede hoekom die kwessie van plaasmoorde so na aan Afrikaners se harte lê. Vandag bloei my Afrikanerhart weereens vir ons boere en ek bid vir hul veiligheid. Ek bid egter ook vir diegene wat so koud en harteloos geword het; ek bid dat God hulle stukkende morele kompasse sal herstel.

N.P. van Wyk Louw was reg toe hy geskryf het: ‟Inderdaad is die ‛donker magte’ van die selfsug, die domheid, die onredelikheid sterker by die mens as die redelikheid.”

Organisasies soos AfriForum sal aanhou veg ten spyte van die monsters wat ons teëkom. Ons is nie ontmoedig nie. Nie eens naastenby nie.

Ernst van Zyl is die hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum en regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Ernst het ’n meestersgraad in politieke wetenskap met lof aan die Stellenbosch Universiteit behaal. Hy is mede-aanbieder van die Podlitiek-podsendingsreeks, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan, en het ’n kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X en YouTube onder die skuilnaam Conscious Caracal.

One Response

  1. Ek het nie meer woorde om hierdie situasie tebeskryf nie!!! Indien ek sou, sal julle my dadelik afhaal. Nog voordat ek Ernst se rebriek lees moes ek lees van die geval waar twee ou mense
    ( 2weerlose 90 jariges) en hulle seun wreedaardig op hulle plaas tussen Middelburg en Stofberg aangeval is. Dit skeur my hart aan stukke. Ek kan dit nie meer hanteer nie. Ons mense besef nie in hoe n verskriklike
    situasie ons verkeer. Dit word by die dag erger. Mag God ons behoed en bewaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: Checkatrade

Die Tshwane-metro wil die krag teen vanaand herstel

Siviwe Gwarube - Daily Maverick

Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026

Israelse vlug - France 24

Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug

Fotokrediet: Daily Maverick

Diplomatieke stappe teen Amerikaanse ambassadeur

plaasaanvalle - Maroela Media

Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: The Citizen
Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe
Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves
Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam
Senzo Mchunu - The Witness
Die OB ondersoek Senzo Mchunu
Fotokrediet: Checkatrade
Die Tshwane-metro wil die krag teen vanaand herstel
Siviwe Gwarube - Daily Maverick
Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026

Luister nou