Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het ’n nuwe beleidsraamwerk geformuleer ten einde die buitelandse reise van voormalige staatshoofde te reguleer en te koördineer.
Dié aankondiging hou verband met Suid-Afrika se Hoë Kommissaris in Indië, Anil Sooklal, se ontvangs van oudpresident, Jacob Zuma in Indië, en dat hy Zuma op ’n besoek aan die Gupta broers vergesel het.
Sooklal is deur dié departement teruggeroep vir konsultasie.
Die minister, Ronald Lamola, sê ingevolge dié nuwe raamwerk, wat deur die presidensie en die departement ontwikkel is, sal oudpresidente en adjunkpresidente voortaan verplig wees om alle besonderhede oor voorgenome buitelandse reise bekend te maak.
Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het gesê dat dit skandelik is dat ’n verteenwoordiger van die land met misdadigers omgaan.
Die raamwerk is na die parlement en die presidensie vir goedkeuring gestuur.