Walter Ernst
Nóg twee mans is aangekeer in verband met die moord op ’n oudonderwyser van Bloemfontein op die N2 naby die Kaapstadse Internasionale Lughawe.
Die 64-jarige Karin van Aardt en haar man, Herman was in die verkeer toe ’n man hulle op die hoek van Jakkalsvlei en Jakes Gerwel-rylaan probeer beroof het.
Sy was in die huurmotor se passasiersitplek toe ’n man die venster gebreek, glo haar handsak probeer gryp en haar verskeie kere met ‘n mes gesteek het. Sy het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.
Hulle was op pad Vredenburg toe om hul kleindogter se verjaarsdag te vier.
Hierdie twee verdagtes is ook in Langa in hegtenis geneem sedert die eerste gister in hegtenis geneem is.
Hulle sal op die laatste Maandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn, saam met die eerste beskuldigde, wat reeds Woensdag in bewaring geneem is.
Die leier van die VF Plus, dr. Corné Mulder, het gesê Van Aardt se moord is ‘n bewys van die tragiese werklikheid van geweldsmisdaad in Suid-Afrika waar misdadigers weens ‘n gebreekte strafregstelsel geen ontsag meer vir reg of lewe het nie.
“Dit dien terselfdertyd as bewys dat die owerhede klaarblyklik wegkyk eerder as om kragdadig op te tree en stappe te neem om misdadigers met alle middele tot hul beskikking uit te roei, selfs al pleit ‘n misdaadvoosgemeenskap om beskerming,” het dr. Mulder gesê.
Fotokrediet: Karin van Aardt/Facebook