Luister nou

Neo-cons, Jode, Epstein, MAGA en ʼn oorlog in Iran

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Die afgelope twee weke het mense aan die twee uiterste punte van die politieke spektrum mekaar weer oor ’n belangrike internasionale saak, die oorlog in Iran, ontmoet. Vir ekstreemlinkses is die oorlog ʼn bewys dat Donald Trump Moslems haat, ’n diktatuur in die VSA wil vestig, oorlog sal gebruik om sy magsposisie uit te brei, die oorlog gebruik om die aandag af te lei van die Epstein-skandaal. Verder is dit volgens hulle ’n bewys dat die bose Israel eintlik maar op Trump se kop sit.

Mense aan die verste ander uithoek van die politieke spektrum stem toenemend met die ekstreem linkses saam oor die oorlog, maar wel vir heeltemal ander redes. Hulle dink ook Israel sit agter alles, maar natuurlik is hulle afkeur in Israel om ander redes. Linkses hou nie van Israel nie weens tipiese linkse simpatie met die Palestyne. Aan die regterkant is die afkeur oor Israel gebou op allerhande samesweringsteorieë oor die Jode se rol in die wêreld.

Daarmee saam is hulle natuurlik ook oortuig daarvan dat Trump sy eie ondersteuners verraai het deur in ’n oorlog met Iran betrokke te raak. Hulle raak ook die Epstein-sage aan, maar is oortuig daarvan dat die neo-konserwatiewe oorlogslustiges in die Amerikaanse diepstaat uiteindelik vir Trump oorrompel het – waarskynlik omdat hulle iets teen hom het. Dit is dus nou die einde van MAGA en Trump is ’n verraaier.

Die werklikheid is dat al die bogenoemde teorieë en ’n lang lys van samesweringsteorieë oor Israel, Iran en Trump wat die afgelope twee weke die ronde doen bloot nie waar is nie. Kom ons begin by die linkse argumente. Indien Trump ’n oorlog teen Moslems wil voer, is daar ’n paar makliker oorloë wat moontlik sou wees. Tog vreemd dat hy dan sulke noue bande die afgelope 14 maande met die Arabiese lande (almal Moslemlande) gesmee het. Dit is onsin dat Trump ’n oorlog voer omdat hy teen Moslems is.

Israel het ’n bestaansreg as land en die Jode was in die gebied tussen die Middelandse See en die Jordaanrivier nog lank voordat die Christendom en die Islam bestaan het. Linkses se obsessie met die Palestyne is ook oneerlik. Die Palestyne het elke geleentheid in die boek gehad vir ’n netjiese eie staat bestaande uit Gasa, die Wesoewer en groot dele van die ooste van Jerusalem. Selfs Bill Clinton het in 2000 gesê dat die Palestyne eenvoudig wil aanhou baklei en nie in ’n eie staat belangstel nie.

Linkses se obsessie met ʼn teorie wat basies behels dat Trump die een krisis na die ander gaan skep ten einde demokrasie in die VSA te beëindig en dan ’n outokrasie af te kondig is ook bloot gek en van enige waarheid gestroop. Amerika se demokrasie is bloot te sterk en daar is meer demokratiese wigte en teenwigte in die VSA as in die meeste lande in die wêreld.

Linkse aanslae op Trump en die VSA is so oud soos Trump en die VSA. Dit is egter werklik kommerwekkend dat die omvang van versinsels uit die verste ander hoek van die politieke spektrum ook die afgelope twee weke soos sneeuballe in ’n reuse- vroeglente sneeustorting ontaard het. Kritiek op die Iran-oorlog is goed en nodig. Daar lê baie risiko’s in die VSA en Israel se besluit om Iran aan te val. Dinge kan nog lelik skeefloop en baie geldige kritiek is al uitgespreek oor die twee lande se motief om oorlog te maak, hulle finale oogmerke en hulle billike beoordeling van waar dinge tans staan.

Dit is egter verstommend dat ou, gevaarlike argumente oor Jode wat insluit samesweringsteorieë oor Jode wat die wêreld wil oorheers en Jode wat die VSA vir hulle oogmerke misbruik, nou weer kop uitsteek. Dieselfde mense wat luidkeels die dood van ’n miljoen Russe in Poetin se oorlog in Oekraïne sal verdedig, sal ook beweer dat Israel bloot die VSA misbruik ten einde Joodse globale heerskappy te herstel.

Die bewering dat die MAGA-beweging teen die oorlog is, is bloot onwaar. Meer as 9 uit elke 10 mense wat in 2024 vir Trump gestem het, steun die oorlog. Is Trump skielik ’n oorlogslustige neo-konserwatiewe intervensionis? Ek sou versigting wees om dit sommer nou al te besluit. Ons sal moet wag en sien. Trump se aptyt vir ’n langdurige oorlog met groot lewenskoste is baie min. En dit moet ook wees. Om egter die einde van MAGA of ’n hernude neo-konserwatiewe oorname van die VSA aan te kondig, is effens voortydig.

Die oorlog in Iran kan baie goed of baie sleg vir die VSA en Israel uitdraai. Indien die oorblywende elemente van die regime in Teheran tot ’n val kom en ’n beter, selfs net effens meer gematigde en pro-hervormingsregering aan bewind kom, wat gepaardgaan met ’n uiters beperkte militêre kapasiteit en ’n heelwat meer selfgeldende Arabiese wêreld – veral met betrekking tot beheer oor die Seestraat van Hormuz – en indien die invloed van die Iran-proksies regoor die Midde-Ooste byna heeltemal ingeperk kan word, sal die wêreld ’n beter plek wees en sal dit tot ’n positiewe nalatenskap vir Trump lei.

’n Uitgerekte oorlog kan Trump en die Republikeine se grootste nagmerrie in jare raak. Ons moet almal hoop dit gebeur nie. Dit help egter nie om nou gebaseer op die standpunte van obskure YouTube-kommentators en samesweringsteorieë Trump en die VSA se grafskrif te skryf nie. Dit speel in die hand van ekstreemlinkses wat wil sien dat Trump misluk en dat die Weste finaal tot ’n val gedwing word.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling van Solidariteit. 

Gewilde Nuus

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Willie Spies

VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie
Mbalula warns those assaulting on-duty police officers
Massaskietvoorvalle eis reeds 100de
Orania
Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Luister nou