Luister nou

ʼn Nuwe, beter wêreld wag ná Covid-19

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 10 Augustus

Deur: Flip Buys

Dit is in die aard van die mensdom dat as dinge goed gaan, mense dink dit sal aanhou goed gaan, maar as dit sleg gaan, dink mense dit sal altyd sleg gaan. Daarom is dit verstaanbaar dat mense in die tyd van ʼn wêreldwye pandemie moedeloos op ʼn donker toekoms sit en wag.

Maar in werklikheid lei groot krisse meestal tot beter tye. Dit is asof rampe juis die mensdom aanspoor om sy skeppende energie in te span om van die wêreld ʼn beter plek te maak. Kyk maar na die Afrikaner se eie geskiedenis. Die eerste 20 jaar van die vorige eeu –1900 tot 1920 – was ʼn verskriklike swaar tyd. Dit het begin met die verwoestende Anglo-Boereoorlog en die grootskaalse armoede daarna. Ons het ons vryheid verloor en is as kolonie by die Britse Ryk ingelyf. Dit is gevolg deur ʼn burgeroorlog én ʼn wêreldoorlog in 1914, en die Groot Griep van 1918. Ramp op ramp. En tog was dit ook ʼn tydperk van ongekende opbou. Afrikaners het uit die verbrande aarde opgestaan en talle maatskappye, vier universiteite, talle skole, hospitale, welsyns- en kultuurorganisasies, Afrikaans as moderne taal, kerke en die Helpmekaar-beweging opgebou.

Dieselfde het ná die Tweede Wêreldoorlog gebeur. Die bekendste Amerikaanse ekonoom van daardie tyd, Paul Samuelson, het verkeerdelik voorspel dat die terugkeer van miljoene soldate en die staking van oorlogsproduksie miljoene mense werkloos sou laat. Hy het donker tye vir die wêreld voorsien. Selfs die magtige VSA se geld was op en die verwoeste Europese state sou nie hul bevolkings kon help nie. Maar toe het net die teenoorgestelde gebeur. Die Westerse wêreld het drie dekades van ongekende groei en voorspoed beleef!

Daar was verskeie redes hiervoor. Die oorlog het tot ʼn ontploffing van nuwe tegnologie, soos rekenaars gelei, wat ʼn groot verbetering in produktiwiteit tot gevolg gehad het. Gesondheidsorg het dramaties verbeter, met vindingryke middels soos penisillien en talle nuwe behandelingsmetodes. Nuwe ekonomiese stelsels het ontstaan, werklose soldate is op groot skaal heropgelei, en verbruikersbesteding het ná die swaarkry van die oorlog die hoogte ingeskiet.

Maar seker die belangrikste bestanddeel van die oplewing was dat mense ná die lang tyd van militêre gesag weer vry van staatsdwang wou wees. Derduisende het hul eie ondernemings begin of hul skeppende energie gebruik om lewens te verbeter. Rampe is baie sigbaar en hoorbaar soos weerlig en donderstorms. Positiewe ontwikkelings is meer soos sagte reën – minder opmerklik maar meer blywend. Dit is hoekom mense oorreageer op krisisse en onderreageer op positiewe nuus. Covid-19 en die harde inperkings het baie lewens en die lewensmiddele van derduisende mense ernstig geraak. In Suid-Afrika het dit ʼn bestaande ekonomiese en staatskrisis bykans in ʼn ramp verander. Die swak, korrupte en rassistiese ANC-regering het ʼn breuk met talle Afrikaners veroorsaak. Ons is op ons eie. Ons weet nou dat ons ons toekoms self moet skep. Dit is ʼn benouende wete, maar terselfdertyd bevrydend. Ons was al daar, en ons is steeds hier. Ons sal weer bo uitkom. ʼn Boer maak altyd ʼn plan.

Hou Afrikaans op die lug

Klik hier

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Veterane

Veterane tree nou ook op YouTube aan

Willie 2

Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Ernst Roets

Roets aanvaar parlement se uitdaging

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: The Banking Association South Africa
Tesourie waarsku oor munisipaliteite se wanbetaling
Padlangs
Wanneer regstelling ’n rookskerm word
The Perfect Blendship headshots with piano
The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Luister nou