Luister nou

’n Hart so taai soos Karoobos

Deur Redaksie

Alta Strauss

In die Karoo pak die wolke saam, maar huil nie maklik nie. Hierdie jaar het die Here egter die sluise van die hemel oopgesluit en dit is bykans ondenkbaar om te dink dat net anderdag nog daar net stof uit die hemel oor hierdie stuk aarde neergedaal het.

“Son, waar is jou skroei?” glimlag my hart, oorstelp van vreugde. God het selfs die wegsteek- en inhou-trane van hierdie mooie landskap kom afdroog, en die siel van mens en dier met die balsemgeur van deurweekte grond en doringbome kom heel. As ’n mens dit darem in ’n botteltjie kon sit, sou jy oornag ’n ryk man wees.

Hoe geseënd is ons net nie? Die lewe is soms moeilik, maar nie vandag nie. Soos my ma altyd sê: “Nood leer bid en droogte maak die hart so taai soos Karoobos.” Dit is die waarheid, dink ek, terwyl ek uitkyk oor die groen velde en gannabos, met die pers en geel koppies wat langarm onder die wolkbreuk in die verte dans.

Ek maak ’n koppie tee en besin oor wat dit beteken om ’n hart so taai soos Karoobos te hê. Wat dit beteken om waarlik te glo. Om seker te wees van die dinge wat ’n mens hoop en net soos die Karoobos oortuig te wees van die dinge wat ek nie sien met die natuurlike oog nie. Om vrede te vind. Selfs in die droë tye van my siel, dat God sy lewende water sal stuur op die regte tyd. Sy tyd.

Ek dink aan hoe my geloof ander rondom my raak. Die voorbeeld wat ek stel en die verantwoordelikheid wat ek dra. Hoe ek in geloof op my knieë voor my God gaan. My God wat die Heelal deur sy woorde geskep het. Die sigbare dinge wat elke dag steeds hul ontstaan het uit dit wat ons nie sien nie. Hoe hierdie hoop sigbaar is in die vrede wat ons in onsself dra. ’n Vrede wat maak dat ons nie dinge vooruit wil loop nie, maar wéét dat alles mooi en goed is in die Here se tyd. ’n Rustigheid oor die toekoms en dat God alreeds daar is. Om nie te druk vir dinge om nóú te gebeur nie, maar in God se tyd. Nie staat te maak op my eie menslike wysheid nie, maar op God se denke wat ver bo myne is.

Dit is ook veral in hierdie moeilike of harde tye wat dit so belangrik is om reg te onderskei. Om nie moed te verloor net omdat jy nie die dinge waarvoor jy bid dadelik kan sien manifesteer nie. Om soos die Karoobos net te volhard en aan te hou om jou wortels deur die krake en skeure van sy Rots se water te stoot. Hoe hierdie vertroue in Hom belangrik is om jou te bewaar van die hitte van die droë jare. Hoe jou wysheid in hierdie droë jare groei, blom en vrug dra. Die vrug van onderskeiding. Om te kan onderskei tussen God se stem en die wêreld se stem en wat jy toelaat om om in te gaan in jou hart.

Soos wat die son sag agter die koppies verdwyn, besef ek opnuut dat ware wysheid begin deur allereers God se wil en sy hart in alles te soek. En as die Here nie in ’n ding is nie, geen aandeel daaraan te hê nie. Wysheid is om myself te verheug in die goeie tye, maar om met dieselfde jubel in my hart ook enduit met die harde tye onwrikbaar vas te staan in die wete dat God ewig getrou is.

Vanaand slaap ek, soos die Karoo met ’n geruste hart, want die genade het geval en my siel staan geel in die blom.

Strauss is ’n motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-71-19-25-Jun-2026.pdf

Gewilde Nuus

Geordin_Hill-Lewis

Hill-Lewis had geen ander keuse

Dawie Roodt

Laer rentekoerse wink as vrede in Iran hou

Trump

Iran: Gesprekke begin

Internasionale Perspektief nuut

Nie ʼn perfekte ooreenkoms nie, maar gee dit ʼn kans…

Thoko Didiza

Phala Phala-aanklagkomitee: Geen geskiktheidsvereistes vir nou

Ander Nuus Artikels

Graffiti logo
Graffiti-boekeblad 19 Junie
Willie Aucamp
Willie Aucamp: Ek wil saam met die boere werk
Geordin_Hill-Lewis
Hill-Lewis had geen ander keuse
Dawie Roodt
Laer rentekoerse wink as vrede in Iran hou
Trump
Iran: Gesprekke begin

Luister nou