12 Desember 2024
Meer as 2 700 nuut opgeleide polisiekonstabels het vandag hulle opleiding voltooi, en sal ontplooi word om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se veiliger feesseisoenbedrywighede.
Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het vroeër vandag saam met die adjunkministers van polisie, Cassel Mathale en Polly Boshielo die nuut opgeleide beamptes verwelkom.
Polisiekonstabels – wat vanaf April 2024 die Basiese Polisie-ontwikkelingsleerprogram ondergaan het – sal gelyktydig aan uitpasseringsparades in Pretoria, Bishop Lavis, Graaff-Reinet en Ulundi bywoon.
Dié nuut-opgeleide polisiebeamptes sal by verskeie polisiestasies regoor die land ontplooi word om polisiekantore se mannekrag te versterk.
Mchunu sê hy is trots op die byna 3 000 jong mense, wat die polisie se oproep gehoor het, en aangesluit het by die polisie-akademie. Hy meen die nuwe polisiekonstabels is toegewyd om hul land met trots, eer en waardigheid te dien.
“Soos wat julle met julle loopbaan begin, onthou net dat jy die vertroue en die hoop van Suid-Afrikaners op jou skouers dra.”