’n Span by vanjaar se Durban Ski Boot Klub-fees het ’n baie ongewone “vangs” gemaak toe hulle ’n Suider-Afrikaanse luislang meer as twee kilometer van Durban se kus af in die see sien swem het.
Dwayne Boshoff en sy pa het die bykans twee-en-’n-half-meter lange slang veilig uit die water gehaal en in ’n kompartement op hul boot geplaas voordat hulle slangvanger Nick Evans gekontak het.
Evans en sy span het die luislang later oorgeneem en veilig strand toe gebring.
Die slang is met vars water afgespoel en word nou gemonitor voordat dit weer in die natuur vrygelaat sal word.