Twee verdagtes wat na bewering betrokke was by die moord op die Suid-Afrikaanse egpaar, Ernst Marais (71) en sy vrou, Dina (73), wat twee weke gelede by Crooks Corner in die Nasionale Krugerwildtuin vermoor is, is in hegtenis geneem.
Die minister van bosbou, visserye en die omgewing, Willie Aucamp, het die deurbraak verwelkom.
Volgens Aucamp het die mans reeds skuld beken danksy samewerking tussen wildbewaarders, internasionale bewaringsliggame en Mosambiekse speurders.
Aucamp sê dat hy met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, asook die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, in verbinding getree het sodat die twee mans so vinnig as moontlik aan Suid-Afrika uitgelewer word.
Mashaba sê dat die egpaar se voertuig in Mosambiek opgespoor is, wat tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte in Chokwé in die suide van Mosambiek gelei het. Die tweede verdagte is die dag daarna in Xai-Xai in die Gaza-provinsie in Mosambiek vasgetrek.
Volgens ’n polisiewoordvoerder in Limpopo, brigadier Hlulani Mashaba, is die Mosambiekse burgers onderskeidelik 32 en 33 jaar oud.
Mashaba sê die twee mans positief met die moord op die Marais-egpaar verbind word.
Volgens Mashaba sal die twee mans teregstaan weens twee aanklagte van moord en voertuigkaping. Nog klagte kan moontlik bygevoeg word namate die ondersoek vorder.
Aucamp het beklemtoon dat misdaad in nasionale parke nie geduld sal word nie en hoop dat die inhegtenisneming vir die Marais-familie berusting sal bring. “Hoewel die Marais-familie ’n hartverskeurende verlies gely het, hoop ek dat die inhegtenisneming van die twee mans ’n mate van troos sal bring,” sê Aucamp.
Die burgerregteorganisasie, AfriForum, het verlede week sy gemeenskapsveiligheidstrukture en hommeltuie aan die departement van bosbou, vissery en die omgewing, SANParke en wetstoepassingsowerhede beskikbaar gestel om te help om die verdagtes vas te trek.