’n Militêre hof in die Demokratiese Republiek die Kongo het die voormalige president Joseph Kabila op aanklag van hoogverraad ter dood veroordeel.
Die hof het bevind dat Kabila, wat nie by die verhoor teenwoordig was nie en ook nie regsverteenwoordiging gehad het nie, skuldig is aan medepligtigheid met die M23-rebellebeweging.
Dié groep, wat steun van Rwanda kry, het groot dele van die oostelike Kongo ingeneem.
Kabila het die land in 2023 verlaat, maar het in Mei onverwags in Goma opgeduik – iets wat kommer in Kinshasa laat ontstaan het.
Ontleders meen die doodsvonnis is ’n politieke poging om te keer dat Kabila die opposisie verenig.
Hoewel die Kongo verlede jaar ’n moratorium op die doodstraf opgehef het, is geen teregstellings sedertdien uitgevoer nie.
Die hoofaanklaer, generaal Lucien Rene Likulia, het beweer Kabila het saam met Rwanda ’n staatsgreep teen president Félix Tshisekedi beplan.
Kabila, wat van 2001 tot 2019 regeer het, is ook aangekla van moord, marteling en verkragting in verband met die M23-rebellegroep.
Die jongste inligting dui daarop dat hy homself tans in Suid-Afrika bevind.