Nuuskommentaar: 3 Augustus
Deur: Jaco Kleynhans
Die afgelope naweek het die Duitse regering bekend gemaak dat Suid-Afrikaners weer na Duitsland kan reis mits hulle teen Covid-19 ingeënt is. Indien jy nie ingeënt is nie kan jy ook na Duitsland reis maar dan sal jy wel eers in verpligte kwarantyn geplaas word. Suid-Afrikaners kan intussen ook na nog Europese lande soos Frankryk, Switserland, Noorweë, die Baltiese State en talle lande in Oos-Europa reis.
Na byna 18 maande waartydens dit slegs in uitsonderlike gevalle moontlik was om op vakansie of selfs ‘n sakereis oorsee te gaan, begin talle lande nou die reisbeperkings wat vroeg verlede jaar ingestel is, verslap. Dit kan egter nog maande of selfs jare neem voordat daar na die gemaklike manier van oorsese reise terug gekeer sal word.
Een van die grootste probleme is die ingewikkelde verskeidenheid reëls van verskillende land een die voortdurende verandering aan lyste van lande waarheen gereis mag word. Besoekers uit die Verenigde State wat volledig ingeënt is, kan byvoorbeeld reeds na Europa reis, maar Europeërs wat volledig ingeënt is, word steeds nie toegelaat om vir toerisme na die VSA te reis nie.
Die meeste lande in die wêreld vereis steeds negatiewe toetse vir Covid-19 en selfs kwarantyn vir buitelandse besoekers. Die reëls hieroor verskil egter ook van land tot land.
‘n Mens sal kan aanvaar dat soos wat meer en meer mense teen Covid-19 ingeënt word internasionale reisbeperkings verder verslap sal word. Dit is egter ook duidelik dat dit vir nog lank met rukke en stote gaan gebeur en dat mense wat oorsee wil reis hulleself baie goed van die veranderende bepalings van al die lande wat hulle wil besoek, moet bly vergewis en vir verandering aan reisplanne voorsiening moet maak.
‘n Verdere groot uitdaging is dat verskillende lande in die wêreld verskillende entstowwe teen Covid-19 gebruik en dat slegs enkele entstowwe deur die meeste lande goedgekeur is. Dit kan dus beteken dat ‘n reisiger uit een land toegang tot ‘n ander land geweier word omdat hy met ‘n entstof wat nie deur die land wat hy besoek goedgekeur is nie, ingeënt is. Dit is selfs meer ingewikkeld met sommige lande wat slegs entstowwe aanvaar wat in sommige ander lande geproduseer is.
Die internasionale toerismebedryf het die afgelope 18 maande reeds vier biljoen dollar se inkomste weens reisbeperkings verloor. In Suid-Afrika smeek die bedryf dat lande soos Engeland hulle burgers moet toelaat om Suid-Afrika vir toerisme te besoek. Die feit dat Duitsers weer vir toerisme na Suid-Afrika mag reis en sonder kwarantyn na Duitsland kan terugkeer, sal sonder twyfel tot ‘n toename in Duitse besoekers lei.
Die werklikheid is egter dat daar geen internasionale konsensus bestaan oor hoe om internasionale reise weer te normaliseer nie. Dit beteken dat dit vir Suid-Afrikaners nog vir land moeilik en selfs onseker gaan wees hoe om ‘n oorsese reis aan te pak, terwyl ons toerismebedryf, hoewel daar binnekort ‘n toename aan buitelandse toerisme behoort te wees, nog lank sal moet wag voordat toeriste uit die VSA, China, Brittanje en talle Europese lande weer hierheen sal stroom. Dink dus mooi voordat jy te vinnig ‘n oorsese vakansie beplan en oorweeg dit steeds sterk om eerder ons eie sukkelende toerismebedryf te ondersteun.
Hou Afrikaans op die lug