Meer as 400 malaria-gevalle en 11 sterftes is in die eerste drie maande van vanjaar in Gauteng aangemeld.
Die malaria-kenner professor Tiaan de Jager van die Universiteit van Pretoria het aan die nuusdiens Daily Maverick gesê die meeste gevalle is ingevoer deur mense wat malaria-besmette gebiede in Suid-Afrika en buurlande, veral Mosambiek, besoek het.
Swaar reën en oorstromings in Januarie het broeiplekke vir muskiete in malaria-endemiese gebiede geskep, wat tot meer besmettings gelei het.
Die aantal gevalle in Gauteng was 80% hoër as die totale aantal gevalle vir die hele vorige jaar.
De Jager waarsku dat mense wat ná ’n besoek aan ’n malaria-risikogebied griepagtige simptome, koors, hoofpyn of naarheid ontwikkel, dringend vir malaria getoets moet word.
Onbehandelde malaria kan vinnig ernstig raak en dodelik wees.