Luister nou

Iran toets grense uit vrees vir verlies van Hormoes-hefboom

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Iran se ekonomie lê aan skerwe soos sy lugmag-, vloot- en kernprogram en sy groot missiel-, hommeltuig- en ander wapenaanlegte. Sy enigste ware wapen in die stryd teen Israel en die VSA is sy vermoë om skeepvaart deur die Seestraat van Hormoes te ontwrig en daardeur globale ekonomiese probleme en gevolglik politieke probleme vir Donald Trump en sy Republikeine in die VSA te skep. Indien hierdie hefboom egter begin vervaag het die regime in Teheran ʼn reusekrisis op hande. Die afgelope twee weke se gewelddadige bravade het Iran se vrees daarvoor bevestig.

Die vraag is nou of Donald Trump se diepe behoefte vir ʼn vredesooreenkoms en sy afkeur in ʼn langdurige oorlog in die hand van Iran se nuutste plan gaan speel? Of het Teheran dalk net die afgelope week sy hand oorspeel?

Daar is twee moontlikhede hier. Dit is belangrik om te onthou dat dit juis Donald Trump was wat aanvanklik binne sy administrasie, behalwe natuurlik ook vir sy adjunk JD Vance, skugter was vir ʼn militêre operasie. Dit is egter voorgestel deur Israel, talle kongreslede, wat sterk teen Iran se invloed in die Midde-Ooste en sy kernprogram gekant was, die Amerikaanse weermag en die Amerikaanse intelligensiediens (CIA). Uiteindelik het Trump wel tot ʼn kortstondige, kragtige en beslissende operasie in Februarie ingestem. Trump is dus baie versigtig vir die ontwikkeling van omstandighede wat tot ʼn lang, uitgerekte oorlog met groot lewensverlies kan lei. Dit het ons die afgelope twee weke in sy optrede gesien waarin hy Israel oortuig om aanvalle te staak, en sy aanvanklike skugterheid Maandagaand om vergeldingsaanvalle teen Iran, nadat ʼn Amerikaanse helikopter afgeskiet is, te onderneem.

Trump is egter ook ʼn onvoorspelbare politikus. Hy wil allermins nie as ʼn swakkeling beskou word nie. En teen Woensdagaand was dit duidelik dat sy geduld met Iran besig is om op te raak. Die huidige voorstel vir ʼn vredesooreenkoms sou in baie oorde as ʼn wen-wen ooreenkoms bestempel kon word. Iran se kernprogram word streng beperk, die Seestraat van Hormoes word onder beheer van meerdere Golflande oopgestel en in ruil daarvoor kry Iran grootskaalse verligting van sanksies en die ontvriesing van reusebedrae buitelandse kapitaal.

Tog dink die Irannese hulle kan Trump se hand forseer om op baie vae terme oor veral hulle kernprogram en selfs meer verligting van sanksies in te stem. Intussen raak dit duidelik dat die wêreld besig is om aan te pas ná die energieskok van die aanvanklike oorlog. Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het reeds hulle uitvoere van olie aan hulle ooskus deur die See van Oman verdubbel en ʼn pyplyn wat teen volgende jaar voltooi sal wees sal dié land se afhanklikheid van die Seestraat van Hormoes vir olie-uitvoere grootliks uitwis. Saoedi-Arabië doen dieselfde deur grootskaalse uitbreidings van hulle uitvoerkapasiteit deur die Rooisee. Katar, Bahrein en Koeweit sal maniere vind om hierby aan te sluit.

Irak het intussen pyplyne na Turkye vir olieuitvoere heropen en ondersoek roetes na Oman, Jordanië en Egipte. Talle Golflande oorweeg die gebruik van pyplyne na Egipte en selfs Israel om die Seestraat van Hormoes vir olieuitvoere te vermy. Kunsmis word reeds per pad na hawens in onder andere die Rooisee vervoer.

Die gevolg gaan wees dat die wêreld nie sommer gou weer 20% van sy olie- en gasaankope deur die Seestraat van Hormoes sal sien beweeg nie. Terwyl Golflande ander planne maak, verhoog die produksie van lande soos die VSA, Brasilië, Guyana en Kanada dramaties en begin dit die globale tekorte aan te vul. Dit is waarskynlik deel van die rede waarom die olieprys die afgelope week weinig gereageer het op eers Iran se afskiet van ʼn Amerikaanse weermaghelikopter en daarna Amerikaanse vergeldingsaanvalle.

Die idee dat ʼn lang oorlog dus bloot net in die guns van Iran tel, word toenemend verkeerd bewys. Hoe langer Iran die Seestraat van Hormoes bedreig hoe meer verswak hierdie hefboom.

Iran het dus die afgelope twee weke ʼn alternatiewe strategie begin aanwend. Dit is om Trump harder te druk om vir vreedsame toegewings eerder as ʼn volskaalse hervatting van die oorlog te kies. Die Irannese se lees van Trump se optrede en opmerkings is dat hy só sterk teen hernude konflik gekant is, dat Iran deur verhoogde geweld dit vir Trump onmoontlik kan maak om nie tot ʼn ooreenkoms in te stem nie.

Op 7 en 8 Junie het Iran dus ballistiese missiele op Israel afgevuur as reaksie op Israeliese lugaanvalle op Beirut in Libanon. Daarmee het Iran die skietstilstandooreenkoms van 8 April eensydig verbreek.

Israel het daarop geantwoord met aanvalle op militêre teikens in die weste en sentrale dele van Iran. Die VSA het Irannese hommeltuie en radarstelsels in die suide van Iran met aanvalle geteiken terwyl Iran missiele op Amerikaanse weermagbasisse in Koeweit, Jordanië en Bahrein afgevuur het.

Iran skep dus die persepsie dat hy gereed is vir ʼn hervatting van volskaalse konflik. Iran is dus in baie opsigte, anders as wat die globale persepsie mag wees, meer desperaat as die VSA om ʼn vredesooreenkoms te sluit.

Iran se ekonomie verkeer in ʼn krisis en sy mense kry geweldig swaar. ʼn Hernude Amerikaansgeleide militêre operasie in Iran kan vernietigend wees. Intussen het Iran dalk net sy hand oorspeel met sy totale blokkade van die Seestraat van Hormoes. Woensdag het die Golflande se leiers ontmoet en dit duidelik gemaak dat die verhouding met Iran waarskynlik nooit weer sal herstel nie. Iran se bure is nou sy vyande. Die meeste Irannese haat die regime in Teheran. Die land se ekonomie stort in duie en sy laaste hefboom is stadig maar seker besig om te verdwyn. Dit is alles behalwe die posisie van ʼn oorwinnaar.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweekhttps://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-70-12-18-Jun-2026.pdf

Gewilde Nuus

Graffiti logo

Die Graffiti-boekeblad

Jeugwerkloosheid Youth Unemployment

60% van jongmense werkloos

Fotokrediet: Queen City News

Hoeveel mikroplastiek is in jou tee?

Fotokrediet: World Bank Blogs

DA gaan dossier by SAMRK indien

SANBS-1024x724

Kom skenk vandag bloed saam met Bulle en voornemende burgemeesters

Ander Nuus Artikels

Cyril Ramaphosa dink
Ramaphosa wil Phala Phala-ondersoek stuit
Verkiesing - Trek Kruisie - OVK
Toename in geregistreerde kiesers
Graffiti logo
Die Graffiti-boekeblad
Jeugwerkloosheid Youth Unemployment
60% van jongmense werkloos
Fotokrediet: Queen City News
Hoeveel mikroplastiek is in jou tee?

Luister nou