Die sewentiende Brics-beraad skop Sondag in Rio de Janeiro, Brasilië af. Twee van die aanvanklike vier stigterslede van Brics, Rusland en China, se staatshoofde sal egter vanjaar afwesig wees. Hoewel president Wladimir Poetin se afwesigheid weens die Internasionale Geregshof se lasbrief vir sy inhegtenisname is, is dit baie veelseggend dat president Xi Jinping van China besluit het om vanjaar se beraad mis te loop.
Die vraag moet gevra word: Wat het Brics sedert die vorige beraad ʼn jaar gelede in Rusland bereik? Hoewel Brics oor die afgelope twee jaar dramaties vanaf vyf lede tot tien gegroei het, met nog tien lande wat die status van vennoot-state geniet en nog twee wat waarnemerstatus geniet, lyk dit nie juis asof Brics as ʼn wesenlike politieke, ekonomiese of selfs militêre magsblok soos die G7, die G20, die Europese Unie of Navo na vore tree nie.
Daar kan geen twyfel bestaan dat Brics oor die potensiaal beskik om een van die invloedrykste magsblokke in die wêreld te word nie. Na die wesenlike uitbreiding in lidmaatskap die afgelope twee jaar verteenwoordig Brics-lande nou 46% van die wêreldbevolking en 25% van die wêreld se grondgebied. Brics-lande verteenwoordig ook gesamentlik meer as 35% van die globale ekonomie. Die ekonomieë van die tien Brics-lidlande saam het die afgelope drie dekades met 356% gegroei.
Die G7-lande is steeds ʼn veel magtiger en belangriker blok as Brics, en verteenwoordig tans sowat 42% van die globale ekonomie, maar daar word verwag dat die huidige tien Brics-lande se ekonomiese somtotaal teen 2045 groter as dié van die huidige G7-lande sal wees. Oor die ekonomiese omvang en verwagte groei van die meeste Brics-lande, veral in Asië, bestaan daar geen twyfel nie.
Tog het Brics baie min politieke, ekonomiese en militêre invloed. Inderwaarheid is talle lande in Brics sodanig betrokke binne ander magsblokke in die wêreld dat talle van hulle waarskynlik juis nie binne Brics op sommige terreine sal wil of kan saamwerk nie. Militêr is daar byvoorbeeld baie groter samewerking tussen Indië en Westerse lande, juis in opposisie tot Chinese aggressie, as wat Indië militêr met enige land binne Brics saamwerk.
Terwyl China uitgesproke daaroor is om Amerika se politieke mag uit te daag, het Indië en Brasilië ʼn veel meer genuanseerde benadering met ʼn strewe na ʼn meer multipolêre wêreldorde. In die Midde-Ooste is Iran ernstig geïsoleer en word die land se motiewe in die streeek met skeptisisme en kommer deur die Arabiese Golflande benader. Selfs Rusland het tydens die onlangse konflik tussen Israel en Iran nie sover gegaan om veel ondersteuning aan Iran te bied nie.
Die grootste enkele verskil tussen Brics-lande is egter hulle uiteenlopende regeringstyle. Alle G7-lande is moderne kapitalistiese demokrasieë. In Brics is daar alles van soortgelyke demokrasieë soos die G7-lande, tot teokrasieë, onderdrukkende vals demokrasieë en eenparty diktature. Die vertrekpunt van Brics-lande is dus só uiteenlopend dat hierdie lande moeilik oor ʼn gunstige regeermodel in die wêreld met mekaar kan praat.
Die lys van verskille en uiteenlopende belange in Brics gaan aan en aan. Die vraag is egter wat bind die Brics-lande saam? Dit kan tog nie bloot net anti-Westerse instinkte wees nie omdat sommige Brics-lande, soos Indië, die Verenigde Arabiese Emirate en Brasilië meermale met die Weste saamwerk as wat hulle aan die Weste se verkeerde kant staan.
Indië beeld die noodsaak van Brics uit in terme van die belange van die opkomende Globale Suide en dat dit belangrik is om ʼn breë groepering van lande saam te snoer wat hulle almal beywer vir ʼn multipolêre wêreld eerder as een met enkele supermoondhede wat altyd in stryd is en wat internasionale politieke en ekonomiese sake en organisasies wil beheer. Dit maak sekerlik sin.
Die probleem met die argument van Indië, die land wat volgende jaar gasheer vir die Brics-beraad sal wees, is dat nie alle ander lidlande sy motiewe deel nie. Vir die Chinese en Russe is Brics primêr ʼn anti-Westerse groepering wat onder andere die dominante posisie van die Amerikaanse dollar in globale handel en Amerika se supermoondheidstatus op verskeie terreine moet uitdaag.
Terwyl president Donald Trump van Amerika uitgesproke negatief oor Brics is en tans in ingewikkelde onderhandelinge vir handelsooreenkomste met tientalle lande wêreldwyd gewikkel is, sal lande wat Trump nie openlik wil uitdaag nie juis iets soos die Brics-beraad versigtig benader. Dit mag dalk ook net die rede vir president Xi se afwesigheid in Rio wees.
President Luiz Inácio Lula da Silva van Brasilië is vanjaar se gasheer. Lula, soos hy algemeen bekendstaan, se huidige termyn as president kom einde volgende jaar tot ʼn einde. Lula se gewildheid het skerp gedaal met net meer as ʼn derde van Brasiliane wat hom nog steun. Vanweë sy harde linkse agtergrond het Lula reeds met Trump gebots en skep sy uitdagende standpunte van tyd tot tyd groot probleme vir Brasilië. ʼn Mens behoort nie veel van Lula se voorsitterskap te verwag nie.
Dit is waarskynlik veilig om te sê dat vanjaar se Brics-beraad stil-stil sal verbygaan sonder wesenlike besluite wat die globale wêreldorde sal raak. Soos by soveel ander geleenthede, soos die G7- en Navo-berade verlede maand, sal Donald Trump sekerlik die olifant in die vertrek wees, al sal hy duisende kilometers weg in die Withuis wees.
Brics mag in omvang reusagtig wees, maar vir nou is daar geen teken dat Brics as ʼn magsblok die wêreld binnekort gaan begin verander nie. Intussen kan ʼn mens eerder verwag dat president Trump op briljante strategiese wyse sal aanhou om ʼn wig tussen Brics-lande in te dryf terwyl Amerika se bande met lande soos Indië en die Emirate nog sterker sal word.
Jaco Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.