Luister nou

Hamas, Hezbollah, Venezuela, Iran, Kuba: SA se vriende val een ná die ander

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Wie sou ʼn dekade gelede kon dink dat Hamas volledig in die Gasastrook verslaan sou word; dat Hezbollah lelik op sy plek gesit sal word deur Israel, en dat ʼn post-Hezbollah-bewind in Beiroet sou oorneem; dat die regime in Venezuela in een nag van sy leier ontneem sou word en dat ‘n tussentydse regering ‘n Amerikaanse bondgenoot sou word; dat die Verenigde State van Amerika (VSA) sy grootste lugaanslag in dekades op Iran sou uitvoer en daarmee die skrikbewind van ajatolla Ali Khamenei sou beëindig; en dat Kuba deur sanksies en ekonomiese en energie-isolasie op sy knieë gedwing sou word? En dit alles binne die bestek van ʼn jaar of wat. Niemand sou dit kon raai of voorspel nie.

Terwyl daar tans wêreldwyd gedebatteer word oor die VSA en Israel se reuse-aanval op Iran sedert verlede Saterdag, asook oor hoe die toekoms van Iran kan of mag lyk, is dit duidelik dat hierdie goed beplande, omvangryke maar uiters riskante aanvalle, deel vorm van ʼn groter prentjie. Dit pas in by ʼn dramatiese aanslag op ʼn groep lande wat vir lank daarmee weggekom het dat hulle op allerhande maniere teen die belange van die VSA spesifiek, en die Weste in die algemeen, kon werk.

Die twee groot reuse wat natuurlik by hierdie groep hoort, is China en Rusland. Die Trump-administrasie se strategie hier is duidelik: om groter ekonomiese druk op Rusland te plaas, deur sanksies en isolasie, sodat die land tot ʼn vredesooreenkoms met Oekraïne instem. Dit kan weer lei tot ʼn normalisering – nie noodwendig vanjaar nie, maar hopelik binne die volgende paar jaar – tussen die Weste en Rusland.

Dit laat ons met China, wat uiters strategies en met briljante planne die afgelope twee tot drie dekades lande en groepe ondersteun het wat Amerikaanse en Westerse belange ondermyn het. Daar is goeie ontledings wat die afgelope paar jaar deur vooraanstaande navorsers gedoen is wat wys hoe Chinese invloed wêreldwyd toegeneem het tot op ʼn punt waar meer lande vandag afhanklik is van bande met China as van bande met die VSA.

Die Chinese se metodiek is ook welbekend. Die Gordel-en-pad-inisiatief (BRI) het sedert 2013 minstens 1,4 triljoen Amerikaanse dollar aan infrastruktuurprojekte op vier kontinente bestee. Dit is in Oktober 2013 deur president Xi Jinping aangekondig met die doel om handel tussen China en ander lande te vergemaklik deur infrastruktuurontwikkeling. Dit is reeds een van die grootste infrastruktuurprojekte in die wêreld se geskiedenis, met projekte in 68 lande wat byna 70% van die wêreld se bevolking insluit en wat reeds daaruit baat gevind het.

Ongelukkig weet ons ook dat eiebelang by die Chinese altyd eerste kom en dat China altyd sy pond vleis terugeis. Die land het die afgelope paar jaar ook eienaarskap van infrastruktuur in talle lande, veral in Afrika, oorgeneem omdat regerings lenings deur die Gordel-en-pad-inisiatief nie kon terugbetaal nie.

Dit sluit in infrastruktuur soos die Hambantota-hawe in Sri Lanka, nadat dié land in 2017 nie ʼn lening vir die diepseehawe kon terugbetaal nie; sowel as die Mattala Rajapaksa Internasionale Lughawe, ook in Sri Lanka; Laos se nasionale kragnetwerk, wat volledig deur die Chinese oorgeneem is weens die niebetaling van ʼn lening; die Gwadar-hawe in Pakistan; en die Entebbe Internasionale Lughawe in Uganda.

China maak nie net lande afhanklik van lenings nie; die Chinese speel die spel van handel en handelsooreenkomste ook uitstekend. Dit sluit omvangryke ooreenkomste met lande in wat Chinese ondernemings groot toegang gee om goedkoop produkte in daardie markte te stort. Wanneer ander lande egter meer na China wil uitvoer, word allerlei versperrings opgerig.

Daar is egter ʼn nóg groter spel wat China speel, en dit is ideologies van aard. Die Chinese, onder Xi Jinping, het uitnemend daarin geslaag om lande wat een of ander huidige of historiese geskil met die VSA en ander Westerse lande het, binne ʼn ideologiese konteks onder hul invloed in te trek. Iran is so ʼn voorbeeld. China koop goedkoop olie uit Iran en verkoop in ruil daarvoor middelmatige wapens (soos missiele) aan Iran. BRICS is en was altyd ‘n opstelling van China om lande in ‘n anti-Westerse groepering saam te voeg met die bewering dat dit eintlik oor die bemagtiging van die Globale Suide gaan.

China se spel het hom tot op die VSA se voorstoep in Venezuela en Kuba geneem. Selfs Panama se regering het onlangs besef dat Chinese invloed in Panama te groot risiko’s vir dié land se verhouding met die VSA inhou. In die Midde-Ooste het China ʼn fyn spel gespeel deur lande en groepe wat die VSA en Israel teenstaan, ekonomies en militêr te ondersteun.

In Afrika is die persepsie geskep dat China daar is as ʼn grootboet vir Afrikalande wat oor eeue deur koloniale Westerse moondhede uitgebuit is. Uiteindelik sien ons egter vandag dat dit juis China is wat as moderne koloniseerder van Afrika is en nou Afrika uitbuit.

Die werklikheid is dat die Trump-administrasie teen hierdie Chinese invloed begin terugstoot het. Hy was grootliks geslaagd in Venezuela, Panama en talle ander Latyns-Amerikaanse lande. Kuba verkeer tans in ʼn reusekrisis, en dit is duidelik dat China hom nie gaan red nie. Iran gaan waarskynlik ook nie deur China gered word nie. En nog minder Suid-Afrika.

Suid-Afrika se ANC-regering het hom vir meer as drie dekades by muishondlande geskaar en dikwels, soos in BRICS, ʼn pion in China se anti-Westerse agenda geword. Nou staan Suid-Afrika en die ANC toenemend ontbloot en diep in die moeilikheid. Die land het dringend ʼn beter buitelandse beleid nodig, en dit sal ʼn skande wees indien RNE-partye, soos die DA en VF Plus, nie ʼn finale streep hieroor trek nie.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit. 

Gewilde Nuus

V (1)

Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital

V

Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: Solidariteit netwerk
Wêreldonderwysersdag word vandag gevier
Boer tot bord
Wanneer ’n boer vermoor word ….
Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie

Luister nou