Luister nou

Halloween of Allerheiligste Nag?

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 29 Oktober 2024

Deur: Herman Toerien

Op 31 Oktober vier talle mense wêreldwyd Halloween, en dit het volgens ‘n artikel in die Kruispad-tydskrif, ook nou op ‘n al groter skaal na Suid-Afrika begin oorwaai. Die invloed van Amerikaanse TV-reekse waarin dit gereeld voorkom, word verdink van hierdie nuwe verskynsel.

Vandag is daar steeds baie, uiters uiteenlopende sienings oor dié dag wat eintlik beide oorspronklike ontstaansredes verdoesel – van die 2 000 jaar oue Keltiese herdenking van die nag waarop die siele van gestorwenes sou herrys en lewendes met bose bedoelinge sou gaan besoek, tot ‘n veel latere herdenking van veral Christen-helde wat hul lewe weens die Christendom verloor het. Die pous,  Gregorius III, het gelas dat die twee dae in een moes vloei en dat die datum waarop dit gevier moes word moes saamval.

Halloween het veral danksy Skotse en Ierse immigrante na die VSA gekom, waar dit nou as sekulêre fees gevier word. Veral jong kinders lééf vir die dag, want daardie nag trek groepe kinders, vergesel van ‘n klompie ouers, van huis tot huis met die uitroep: “Trick or treat.” Die huisbaas moet maar gereed staan met ‘n groot voorraad lekkergoed sodat elke kind se sak al voller kon word. Die arme huiseienaar wat nié saamspeel nie word met ‘n poets van die een of ander aard gestraf. ‘n Bekende manier, waarin ons via die TV-reeks Hawai Five O kennis geneem het, is om ‘n boom in die tuin met rolle toiletpapier te “versier.”

Kortom, van jongs af assosieer kinders dit met ‘n feestelikheid, amper soos Kersfees met Kersvader, of Sinterklaas, met die baie presente. Die spookagtige kostuums, pampoenspoke en ander grillerige simbole is van die oorblyfsels van die oeroue Keltiese gebruike.

Die Keltiese herdenking het, volgens die hedendaagse kalender, op 31 Oktober plaasgevind, en as Samhain bekend gestaan. Dié dag het die Keltiese god van die dood gedenk. Die Kelte het destyds wydverspreid in veral Wes-Europa voorgekom, met die bekende Galliërkrygsman, Asterix en sy vriend, Obalix as voorbeelde. In Groot Brittanje het van die tale nog oorgebly, soos Iers wat vandag saam met Engels die amptelike tale van Ierland is, Wallies, Cornwallies, en die byna uitgestorwe Skots.

Die Christelike tradisie het bekend gestaan as Allerheiligste Nag, of in Engels, as “All Saints Day,” of “All Hallows Day.”  Pous Gregorius III het gelas dat die herdenking na 1 November geskuif moet word   Samhain het egter op 31 Oktober bly voortleef.  Die Allerheigste Nag of All Saints Day word herlei na die apostel Paulus se stelling dat die soeke van die nalatenskap van die heiliges meer waardevol is as die dood. In die teologie van die Metodiste behels dit om God plegtig te dank vir die lewens en dood van sy heiliges, insluitend diegene wat beroemd of onbekend was. John Wesley. Stigter van die Metodiste-beweging, het hierdie dag as ’n baie belangrike en aangename herdenkingsdag beskryf. Hy het destyds beslis nie die Keltiese, of die hedendaagse selulêre begrip daarvan in gedagte gehad nie.

Daar is vandag steeds kerke wat op die dag die lidmate wat die voorafgaande jaar oorlede is, gedenk, en te bid vir die troos en versorging vir die naasbestaandes.

Vandag skyn daar weer ‘n praktiese onderskeid tussen Halloween, en All Saints Day te wees. Halloween word steeds op 31 Oktober gevier, en All Saints Day op 1 November. Dit word op 2 November opgevolg deur All Souls’ Day, wanneer in plaas van vir die afgestorwe heiliges, vir die gewone afgestorwenes en hul lewende naasbestaandes gebid word.

Behoort Suid-Afrikaners dit te vier? Die mees algemene kerklike standpunt is dat elke Christen self daaroor moet besluit, maar die viering word bykans strykdeur afgeraai. Enersyds, teologies, omdat Christus aan die kruis die dood oorwin het, en dat die viering van die dood onvanpas is. Tweedens is dit moeilik om dit van die historiese assosiasie met ‘n heidense praktyk los te maak. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: NOS

Noodvergadering oor Libanon belê

Fotokrediet: My Broadband

Groen ID-boek gou iets van die verlede

Boer tot bord

Kos op die tafel begin lank voor die winkelrak

Leon Gropp

Leon Gropp gaan van Comrades tot komedie

Heinrich Marnitz

Heinrich Marnitz terug met Fluweel-klanke

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: WPLN News
Meer Suid-Afrikaners doen aansoek vir vuurwapenlisensies
Fotokrediet: Inside Politic
Gemengde reaksie oor Gana se voorsitterskap
Marilyn-foto
Marilyn Monroe se rokkie waai steeds
Fotokrediet: NOS
Noodvergadering oor Libanon belê
Fotokrediet: My Broadband
Groen ID-boek gou iets van die verlede

Luister nou