Luister nou

Globale gebeure ontvou te midde van magstryd tussen VSA en China

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Op 14 en 15 Mei sal president Donald Trump van die VSA besoek aan China aflê. Die besoek sal ʼn ontmoeting met president Xi Jinping insluit. Trump en Xi is tans die twee belangrikste en invloedrykste wêreldleiers. Hulle verteenwoordig teenoorgestelde pole van globale invloed, ideologie en denke oor toekomstige globale magsverhoudinge.

In die aanloop tot Trump se besoek verdiep die VSA en China se globale magstryd – wat in sekere opsigte soos ʼn koue oorlog tussen dié twee lande lyk – daagliks op byna elke vasteland. Dit is dus belangrik om die gebeure van die afgelope paar maande in Venezuela, Iran, Panama, Kuba en verskeie Afrikalande binne die konteks van hierdie globale magstryd te evalueer.

Een van die belangrikste toetse vir die verhouding en magstryd tussen die VSA en China is die konflik in die Midde-Ooste. Iran is ʼn noue bondgenoot van China en het die afgelope paar jaar ʼn groot aantal lugafweerstelsels, missiellanseerders, gevorderde mediumafstandmissiele en ander wapenstelsels van China aangekoop.

China kry 11% van sy ruolie uit Iran, terwyl Iran 90% van sy ruolie na China uitvoer. Die afgelope weke se blokkade van Iranse hawens het China gedwing om al hoe meer van sy strategiese oliereserwes te gebruik, omdat Iranse olie nie meer uitgevoer kan word nie.

Daar is egter twee belangriker vrae wat ʼn wesenlike invloed op beide die VSA en China se volgende skuif in die Midde-Ooste kan hê. Die eerste het betrekking op die risiko’s vir China om volgehoue steun aan Iran voort te sit, veral in terme van sanksies wat Chinese maatskappye kan raak asook China se verhouding met die Golf-lande, wat almal tans redelik ontevrede met Iran is.

Die tweede vraag hou verband met die globale ekonomiese gevolge van die oorlog. Terwyl die oorlog, en veral die voortdurende styging in olie- en gaspryse, byna elke land in die wêreld negatief beïnvloed, is die ekonomiese risiko’s vir China veel groter as vir die VSA. Die VSA is deesdae ʼn groot netto-uitvoerder van olie en gas, en Amerikaanse maatskappye is ook besig om hul betrokkenheid by groot projekte in die Amerikas, soos Venezuela en Guyana, aansienlik uit te brei.

Vir China is die risiko wat die oorlog inhou nie net die vervreemding van bondgenote weens ʼn noue verbintenis met Iran, Amerikaanse woede of selfs die tydelike verlies aan Iranse olie nie, maar wel ʼn skerp afname in globale ekonomiese groei en in besonder in die vraag na Chinese goedere as gevolg van stygende inflasie. Hierdie scenario is reeds besig om uit te speel, met verskeie reuse- Chinese produsente wat produksie begin afskaal het.

Verlede naweek het China se ministerie van handel Aankondiging nr. 21 uitgereik, wat bepaal dat Chinese maatskappye en instellings alle Amerikaanse sanksies moet misken, nie moet afdwing nie en dit moet uitdaag. Amerikaanse instellings wat sankies afdwing kan ook in Chinese howe vervolg word. Dit volg nadat die VSA sanksies teen vyf Chinese raffinaderye ingestel het. Die handelsoorlog tussen die VSA en China is duidelik besig om te vererger.

Vroeër vandeesweek het dit ook aan die lig gekom dat China beplan om binne enkele weke nuwe lugverdedigingstelsels aan Iran te lewer. Volgens Amerikaanse intelligensieverslae sal dié toerusting oor land vanaf China na Iran deur verskeie lande vervoer word. China neem hiermee ʼn berekende risiko. Terwyl die Chinese poog om deur diplomatieke en indirekte kanale druk op Iran uit te oefen om ʼn ooreenkoms met die VSA te bereik, wil die Chinese ook Iran help om sy militêre vermoëns te herstel om die Amerikaners te laat afsien van hernude aanvalle op Iranse grondgebied.

Terwyl die uitspeel van die Iran-oorlog ʼn groot impak op die VSA en China se invloed in die streek kan hê, het die belangrikste gebeure die afgelope paar maande in Latyns-Amerika plaasgevind. Op 28 April het die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake saam met die regerings van Costa Rica, Bolivië, Paraguay, Guyana en Trinidad en Tobago ʼn gesamentlike verklaring “in solidariteit met Panama” uitgereik in reaksie op ʼn toename in voorvalle waarin skepe uit Panama om verskeie redes in Chinese hawens gehou word en nie toegelaat word om die hawens te verlaat nie.

Die Trump-administrasie het die VSA se invloed in Latyns-Amerika ten koste van China oor die afgelope sestien maande omvattend uitgebrei. Terwyl Chinese seevaartmaatskappye uit Panama geboender is, het Chinese invloed in Venezuela merkbaar verminder en kan politieke verandering in Kuba soortgelyke gevolge hê. Die VSA, tesame met Amerikaanse maatskappye, het nou groter toegang tot die Panamakanaal as in ʼn lang tyd, sowel as tot hawens regoor Latyns-Amerika.

Die Amerikaners se toegang tot nuwe olievelde vir ligte ruolie in Guyana en die reuse- onontginde litiumneerslae in Bolivië, kan nie onderskat word nie. Die Chinese was vir lank ook agter hierdie hulpbronne aan. Die VSA het nou ʼn voorsprong danksy sy noue bondgenootskap met die meeste Latyns-Amerikaanse lande.

Die VSA het onlangs ook nuwe samewerkingsooreenkomste vir veiligheid met Indonesië en Japan onderteken. Meer uitgebreide ooreenkomste tussen die VSA en talle ander Stille Oseaan-lande is tans in die pyplyn.

Die Chinese sit egter nie stil en toekyk nie. China se invloed in Afrika en talle Asiatiese lande neem steeds toe. Ook hier werk die Amerikaners tans aan strategieë om Chinese invloed teen te werk. Die globale magstryd tussen die VSA en China gaan waarskynlik in die komende maande verder verdiep, wat groot onsekerheid skep, maar ook geleenthede en selfs groter risiko’s inhou vir lande wat nie die uitruil van vuishoue tussen dié twee reuse kan navigeer nie.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit. 

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou