Polisiebeamptes en privaat sekuriteit is op hoë gereedheidsvlak aangesien die situasie by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap steeds wisselvallig bly.
’n Aantal geboue op die Alice-kampus, insluitend die administratiewe blok en die Kantoor vir Studentesake, is gistermiddag aan die brand gesteek, nadat studente en ’n privaat sekuriteitsmaatskappy met mekaar slaags geraak het.
Brandbestryders is ontbied om die vuur te blus, maar aansienlike skade is reeds aangerig.
Die polisie se Siphokazi Mawisa sê die studente het die Administrasieblok, Studentesentrum, Ouditorium en MIV-sentrum aan die brand gesteek.
Rubberkoeëls is gebruik om die skare uiteen te jaag en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Verskeie studente het ook sekuriteitswagte as gyselaars in ’n gebou aangehou, maar die polisie het hulle bevry.
Die universiteit het intussen ’n verklaring uitgereik en sê dat die Alice-kampus nie meer veilig vir studente en personeel is nie.
Die direkteur vir bemarking en kommunikasie, JP Roodt, sê die kampusaktiwiteite is opgeskort en studente is versoek om koshuise te verlaat.
Spanning het op die kampus begin toeneem nadat die universiteit sy planne bekend gemaak het om ’n tussentydse Verteenwoordigende Studenteraad aan te stel en die universiteit se studenteregeringsgrondwet te wysig.