Die landdroshof in Brakpan het vandag gehoor dat Wiandré Pretorius, die sleutelfiguur in die moordsaak van Emmanuel Mbense, sy eie lewe geneem het, nadat DNS-bewyse hom in Mbense se slaapkamer, op die aand van sy moord, geplaas het.
Dié getuienis is deur die ondersoekbeampte, Nomsa Masuku, gelewer in die saak teen die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi en sy vyf medebeskuldigdes.
Volgens Masuku kon Pretorius die DNS-verslag by sy vrou, Juan-Maree Eksteen, ontvang het. Eksteen is ’n voormalige beampte van die SAPD se blitspatrollie.
Mbense is glo in sy woning in Brakpan gemartel en vermoor, waarna sy liggaam in ’n dam naby Nigel gestort is.
Mkhwanazi en sy medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, roof en regsverydeling.