Nuuskommentaar: 25 Junie 2024
Deur: Alana Bailey
Die afgelope week gons dit oor die voortbestaan van verskeie koerante, insluitend Afrikaanse publikasies. Gedrukte media verkeer wêreldwyd in ’n oorlewingstryd omdat al meer lesers digitale nuusbronne verkies. As gedrukte koerante sou verdwyn, sal dit nie noodwendig die einde van uitnemende joernalistiek beteken nie, maar daar sal nadelige gevolge wees.
Enige hoogsontwikkelde taal se stand word aan die aard en omvang van sy publikasies gemeet. Die verlies aan enige publikasie is dus ’n swaar slag vir Afrikaans, veral as Engelse titels voortbestaan en koerantlesers dít eerder sal koop as om aanlyn te lees.
Verder vergeet voorstanders van digitale nuus dat almal nie noodwendig toegang tot opvangs het, data en toestelle waarop dit gelees kan word kan bekostig, of digitale nuus wíl lees nie. Net omdat mense nie die hoofstroom volg nie, beteken nie dat ons hulle kan minag nie.
Die langtermyn beskikbaarheid van nuus wat net digitaal verskyn, is ook onseker. Inligtingsbewaringsmetodes het die afgelope twee dekades van floppies, na stiffies, eksterne hardeskywe en die wolk gemigreer. As inligting nie telkens saam verhuis het nie, het dit waarskynlik verlore geraak. Alle nuushuise is nie noukeurig met die bewaring van gepubliseerde berigte nie en selfs bewaarde inligting kan die prooi van sensors, kuberkrakers, misdadigers en ideoloë word, wat dit mag vernietig of verdraai. Daarenteen het publikasiewetgewing voorsiening gemaak vir die bewaring van elke gedrukte koerant in vyf pligleweringsbiblioteke in die land. As bron is dit van onskatbare waarde vir navorsers.
Gedrukte koerante bied boonop wyer blootstelling aan lesers. Op sosiale media sal ’n algoritme of mediasoektog berigte outomaties vír jou kies. Deurentyd sal jy slegs aan inligting oor ’n beperkte groep temas blootgestel word. Wanneer jy egter ’n koerant oopslaan, sal jy uiteenlopende berigte en meningstukke raaksien onderweg na die berigte waarna jy soek. Dit mag jou belangstellingsveld en kennis uitbrei en noodsaaklike gebeure onder jou aandag bring waarvan jy andersins nie bewus sou wees nie.
Nog voordele is datdie lees van gedrukte media konsentrasie verbeter, stremming op die oë verminder en beskikbaar is tydens beurtkrag, kragonderbrekings en in gebiede sonder internetopvangs. Vir getroue koerantlesers is die taktiele ervaring daarvan om deur die koerant te blaai net so genotvol as die lees van die nuus.
Die druk en verspreiding van koerante skep werk op verskeie vlakke wat afleggings beteken wanneer koerante sluit. Van joernaliste en taalpraktisyns tot uitlegkunstenaars, drukperstegnici en les bes, koerantverspreiders word uiters nadelig geraak deur sluitings.
Waar aflewering nog plaasvind, is daar weer vereensaamdes vir wie die daaglikse ontmoeting met ’n koerantverkoper een van die min geleenthede vir sosiale kontak is, of ’n gekoesterde ritueel wat vir hulle vertroostende reëlmaat te midde van onseker tye bied.
Die een tradisie waarvoor Maroela Media, AfriForum en ander selfs al suksesvol in die hof ingetree het, is die reg dat jou naam (deesdae jou nommer) in die koerant verskyn as jy matriek geslaag het. Dié enkele letters of syfers bevestig simbolies twaalf jaar se ywer. Aanlyn sal net nie dieselfde wees nie!
Uit al hierdie voorbeelde en selfs meer, blyk dit dat gedrukte koerante ’n belangrike rol vertolk en verdien om behoue te bly. Elkeen kan help deur gereeld ’n koerant te koop en vandag nog die petisie teen die sluiting van Beeld en Rapport by redrapport.co.za te onderteken.