Luister nou

Die fluistering wat vrede basuin

Deur Redaksie

Annelize Pepler le Roux

Wat ʼn gekspul is oorlog nie!  Hoe is dit moontlik dat massas mense hulle soos deur die eeue heen, steeds swymel oor politieke idiote met ʼn ‘myne is groter en langer as joune’-mentaliteit?

Hierdie maand is dit die 82-jarige herdenking van die Geallieerde magte se D-dag-aankomste tydens die Tweede Wêreldoorlog aan die kus van Normandië in Frankryk.  Hoe sou die wêreld se demografie vandag uitsien sonder onder meer die reddende D-dag-offensief teen die magte van die Spilmoondhede?

D-dag se uiters fyn beplande militêre offensief, waarvan die aanvalsdatum, 6 Junie 1944, natuurlik hoogs geheim gehou is, het gelei tot die groot ommeswaai van magsewewig in die guns van die Geallieerdes.

Hoeveel miljoene meer mense sou die besete Adolf Hitler se weermag nie oor die wêreld heen kon vernietig nie!  Sy meelopers, waaronder ook Benito Mussolini, daardie mannetjie met die gekwelde siel en armpie wat kort-kort soos ʼn ou Volksie se flikkeraanwyser omhoog geskiet het, sou lustig meedoen.

Mussolini se arrogansie het onder meer daartoe gelei dat sy troepe Griekeland op 28 Oktober 1940 vanuit Albanië binneval, nadat die destydse Eerste Minister van Griekeland, generaal Ioannis Metaxas, Mussolini se ultimatum om Italië se weermag vrye toegang tot Griekeland te gee, geweier het.

Die Grieke het verbete geveg en binne enkele maande, te midde van (toe) die ergste winter in menseheugenis, die Italiaanse troepe teruggedryf tot in Albanië.  Die Italianers se lewensverlies het duisende beloop.

Tydens n besoek aan El Alamein in Egipte, tuur ek oor die massagrafte van Geallieerdes wat tydens die Noord-Afrika-veldtog gesterf het.  My reisgenote wat familielede tydens die veldtog verloor het, staan eerbiedstil en plaas dan ʼn kransie sewejaartjies wat vanaf Suid-Afrika saamgebring is, saggies naby die rye gedenkstene met die Springbokkop-embleem.  ʼn Droewige windjie lig die sand geluidloos sowat enkelhoogte.  Verder is dit grafstil.

My gedagtes gaan op loop. In my geestesoog staan elke gestorwene skielik kiertsregop agter die steen by sy graf en kyk vorentoe. Ons maak oogkontak.                               

Iemand, êrens in die wêreld, se eggenoot, vader, broer, seun, neef, skoonseun of vriend staan ongeskonde en heelhuids voor my, presies soos hulle was voor geweervuur en grofgeskut hulle aan flarde geruk het.                                                                                                                                                         

Hoe is dit moontlik dat selfs hedendaagse oorlogsugtiges se intieme binnekring, naamlik gades, vriendinne, ouers, kinders en kennisse hulle steeds nie kan of wil oorreed tot vreedsame alternatiewe nie, of is dit juis hierdie binnekring wat hulle klakkeloos aanpor, ondersteun en bewonder?

Tydens die Koue Oorlog was Andrei Gromyko, die Sowjet-Unie se minister van Buitelande Sake se raad aan Nancy Reagan: “Fluister (dan) vrede in jou man se oor, elke aand.”

Het Eva Braun maar destyds vrede in Hitler se oor en die owerspelige Claretta Petacci vrede in die ewe owerspelige Mussolini se oor gefluister!

Mag die vriendinne, vroue, familie en vriende van elke huidige en toekomstige staatshoof met daardie “myne is groter”-mentaliteit, dringend Gromyko se destydse raad aan Nancy Reagan volg.

Fluister, dalk sal hulle luister.  Wees oordadig.

Pepler le Roux is ʼn toeroperateur, voormalige joernalis en skrywer van reklamekopie.

Andrei Gromyko in 1984 saam met Nancy en president Ronald Reagan tydens sy besoek aan die Withuis. (Foto: Edward Pesov/Tass/Getty.)

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweekhttps://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/NUUSWEEK-Uitgawe-72-26-Jun-02-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Lucia en Danie Langner

Nuwe voorsitter vir Voortrekkermonument

Dirk Hermann

Afrikaanse onderwys by ’n draaipunt

Untitled design (5)

Burnham die voor-Keir-kandidaat

Untitled design (4)

Koos Malan: ANC is gewaarsku oor onwettige immigrante

Untitled design (2)

D-dag vir onwettige immigrante

Ander Nuus Artikels

Boer tot bord
Ekonomiese groei, arbeid en die prys van beleid
Graffiti-logo-nuut
Boekeblad met Graffiti
Lucia en Danie Langner
Nuwe voorsitter vir Voortrekkermonument
Dirk Hermann
Afrikaanse onderwys by ’n draaipunt
Untitled design (5)
Burnham die voor-Keir-kandidaat

Luister nou