Luister nou

Die bou van ‘n bestuurspan

Deur Pretoria FM Nuusspan

Hoofstuk 27 – 11 September 2023

Die bestuurspan van die ou radio Pretoria moes as deel van die groei en ontwikkelingsplan uitgebrei en gevestig word.

Aanvanklik is Fred Maree betrek, eers as konsultant en later as as stasiebestuurder.

Fred het later sy herinneringe soos volg neergepen:

“Gedurende die eerste helfte van die vorige dekade was ek die Stasiebestuurder van Pretoria FM.  Ek is aanvanklik as konsultant vir ‘n periode van ses maande aangestel, maar na twee maande het my ampstitel en verantwoordelikhede verander. 

Tydens my termyn was daar baie laagte- sowel as hoogtepunte.  Die stabilisering, modenisering en uitbreiding van die seinnetwerk was ‘n uitdaging.  Diefstal, sabotasie en instandhouding van infrastruktuur was ‘n probleem.  Gebrekkige kontantvloei was ‘n ernstige hobbel in die pad. 

Georkestreerde aanslae waartydens die stasie se telefone oorlaai is en beledigings die norm was, het die personeel letterlik tot trane gedryf. 

Maar goeie dinge het daardie tydvak oorskadu!  Die lojaliteit, kreatiwiteit, welwillendheid en deursettingsvemoë van die Pretoria FM-span, werknemers en medewerkers, was deurslaggewend. 

Die bereidwilligheid van die meeste werknemers om altyd ‘n ekstra myl te loop, was ‘n riem onder die hart.  Veral die insette van jong werknemers was ‘n verfrissende bries wat my hoop vir die toekoms van ons land versterk het. 

Na ongeveer nege maande het Pretoria FM se onafhanklik gerapporteerde luistertal verdubbel. 

Die stasie het in 2013 ‘n nasionale toekenning gekry vir die radiostasie met die mees lojale luisteraars. 

Pretoria FM was in 2014 die enigste gemeenskapradiostasie met akkreditasie by die nasionale verkiesingsentrum tydens die nasionale verkiesing. 

Een gebeurtenis wat ‘n blywende indruk op my gemaak het, het nie op die openbare terrein plaasgevind nie en het ook niks te make met operasionele doeltreffendheid nie.  Op ‘n dag antwoord ek die telefoon en ‘n baie gebroke ou man gesels met my. 

Hy is ‘n Poolse immigrant sonder kind of kraai en is al dertig jaar in Suid-Afrika.  Hy woon in ‘n aftree-oord.  Sy enigste vriend het gesterf en daarom is hy baie bedroef.  Die vriend was destyds ‘n slagoffer van die terreuraanval by die Poynton-gebou in Kerkstraat-Wes in Pretoria. Die vriend is nou dood en iemand moet daarvan en die tragedie van die destydse bom kennis neem, maar daar is niemand vir wie hy dit kan vertel nie.  Daarom het hy sy enigste familie, Pretoria FM, geskakel. 

Hy gesels op voornaam oor byna elke personeellid maar het nog nooit enigiemand van hulle persoonlk ontmoet nie. 

Ek gesels vir twee ure empaties met hom oor sy smart.  ‘n Paar dae later ry ek na die aftree-oord vir ‘n welwillendheidsbesoek…So is Pretoria FM vir sommige luisteraars die naelstring na die hartklop van die daaglikse lewe. 

Kort na Fred Maree, het Corrie Pretorius by ons span aangesluit as adjunk-stasiebestuurder.

Corrie skryf soos volg oor sy belewenisse:

“Van die opwindende beginjare tot die groeiende betrokkenheid en ervarings wat ek met die stasie gedeel het, is daar soveel om te onthou. As hoërskoolseun het ek saam met my ouers die radio aangehad toe die eerste klankgolwe van Radio Pretoria die oggend gespeel het.  Daar was ‘n tikkie trots en ‘n mate van vryheid wat losgekom het in ‘n mens se binneste.  Die politieke arena in daardie stadium was maar baie ontstuimig gewees.

So het die radiostasie in ons huis altyd gespeel, behalwe vir die kortstondige tye waar die uitsendings gestaak moes word weens hofuitsprake.

Ons het ook deelgeneem aan vele van die aksies wat die radio gereël het, waar ons ook lekker kon skoffel en tiekiedraai.

Toe die geleentheid oor my pad gekom het om dalk by Radio Pretoria te kan werk, was dit nie moeilik om aansoek te doen nie.

My betrokkendheid by Radio Pretoria het toe begin op 1 Oktober 2012 as Adjunk-Stasiebestuurder onder leiding van Fred Maree wat op daardie stadium die stasiebestuurder was.  Die kantore was toe nog in die Magmedgebou in Magalieskruin gewees.

Die eerste indrukke wat ek gekry het, was dat hierdie mense wat hier werk, graag hier wil werk, want die omstandighede is werklik nie van die aangenaamste gewees nie, en omdat ek saam met die radio grootgeword het, het ek besef dat die stasie baie gesteun het op die donasies van die luisteraars – geldelik asook in ander skenkings soos tafels, stoele, breekware ens.

Oor die afgelope paar jaar het daardie beeld heeltemal verander en is ons trots op ‘n stasie wat gegroei en vernuwe het.

Die vriendelike medewerkers, opwindende geleenthede, en die impak wat Pretoria FM op my lewe gehad het, sal vir ewig deel van my herinneringe wees.”

Soos die radio ontwikkel en aanbeweeg het, het Fred Maree uiteindelik as stasiebestuurder plek gemaak vir Hennie Koortzen. Corrie Pretorius is steeds die finansiële bestuurder van die stasie, maar met die wysheid van nabetragting was die sleutelrol wat Fred en Corrie in die jare 2011 tot 2014 gespreel het, deurslaggewend.  

KOOP NOU KAARTJIES – https://itickets.co.za/events/472390

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: BusinessTech

Motoriste kan veranderinge verwag

Parlement

Nuwe reëls vir artikel 89-proses

Fotokrediet: Witness

Nuwe muntstuk ter herdenking aan die jeug

Floppy die patrolliehond

Vermiste Floppy dood gevind

Ashley Oosthuizen - Fotokrediet News24

Ashley Oosthuizen se vonnis in Thailand wéér verkort

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: Atlantic Council
Iran se missielprogram is nie deel van die onderhandelinge nie
Telefoon
56% van polisiekantore antwoord nie
Fotokrediet: Tripadvisor
Toeris noodlottig in ‘n skietongeluk gewond
Fotokrediet: BusinessTech
Motoriste kan veranderinge verwag
Parlement
Nuwe reëls vir artikel 89-proses

Luister nou