Die MK-party het sy naam bygevoeg by die lys van mense wat wil sien dat daar opgetree word teen die minister van polisie, Senzo Mchunu.
Die MK-party se nasionale woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die party het strafregtelike klagte by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig gemaak. Die klagte kom nadat KwaZulu-Natal se provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal, Nhlanhla Mkhwanazi, die minister daarvan beskuldig het dat hy bande met misdaadsindikate het.

Mchunu is ook van politieke inmenging beskuldig.
Daar is ook ‘n saak geopen teen die adjunk nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya. Ndhlela sê die party sal aanhou om toe te sien dat die nodige wette gevolg word.
LEES OOK: 12 000 vernietigde vuurwapens nie verbind met sake wat in aardskuddende bewerings genoem is nie
Hy meen Mchunu het sy mag misbruik en behoort aangekla te word van sameswering om geweld te pleeg.
Die party sê die klag is ook geopen weens Mchunu se besluit om die taakspan vir polities gemotiveerde moorde in KwaZulu-Natal te ontbind en meen hy (Mchunu) gebruik intimidasietaktieke om fluitjieblasers af te skrik.

Ndhlela sê die MK-party se klag teen Sibiya kom nadat hy glo met bewyse gepeuter het, wat dossiere insluit.
Volgens die party wil dit voorkom asof daar ‘n doelbewuste en gekoördineerde poging was om geregtigheid te belemmer en verantwoordbaarheid te ondermyn.
Intussen het die DA ook vanoggend strafregtelike klagte teen Mchunu by die Kaapstad sentraal-polisiestasie aanhangig gemaak.
Die DA se adjunk-hoofsweep in die parlement, Baxolile Nodada, meen die minister het vir die parlement gejok, en moet daarvoor aanspreeklik gehou word.
Ook die EFF het die minister by die etiekkomitee van die parlement verkla.