Nooddienste en die Gautengse en Ekurhuleni-metropolisie is vanoggend na die departement van binnelandse sake se kantoor in Germiston ontplooi, nadat ‘n brand by dié gebou uitgebreek het.
’n Betoging het in die sakekern plaasgevind en die paaie om binnelandse sake – insluitend President-, Queen-, en Jackstraat is met brandende buitebande versper.
Die VF Plus se verteenwoordiger in Germiston, raadslid Monique Kriek, het aan Pretoria FM bevestig dat die betogers na bewering die brand op die boonste verdieping van die tweeverdiepinggebou gestig het.
Die betogers is glo ontevrede omdat onwettige inwoners – wat woonstelle in Pharoe-park beset het sonder om huur te betaal – met uitsettingsbevele verwyder is.
Die besetters se skuld aan die Ekurhuleni-metro beloop glo sowat R200 miljoen.
‘n Woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, William Ntladi, sê reddingswerkers het aan die media gesê dat hulle albei verdiepings deursoek het en dat daar op dié stadium nog geen sterftes aangemeld is nie.
Die omliggende geboue bly vir eers ontruim.