Esmarie Yssel
Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy skok uitgespreek nadat die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube en haar departement besluit het om oud-Model-C Afrikaanse skole eerste te teiken om hul taalbeleid te verander.
Die besluit is aangekondig tydens ‘n sitting van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys.
AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey, sê die minister het die afgelope tyd groot gewag gemaak van die noodsaak van moedertaalonderrig, “maar dit is nou duidelik dat daar ‘n agenda teen Afrikaanse skole is”.
Dit is ook al byna ’n jaar wat AfriForum en die Solidariteit Beweging vir die beoogde regulasies oor taalbeleid wag.
AfriForum sê die DA moet dit vir eens en altyd duidelik maak waar die party staan wat die Bela-wet betref, aangesien Gwarube ’n DA-minister is.
Solidariteit se bestuurshoof, dr. Dirk Hermann het in reaksie gesê dat daar nog nooit enige twyfel was dat Bela ’n wapen in die hand van die regering teen Afrikaans is nie.
Hy sê die uitkoms van meertaligheid is in werklikheid bloot ’n pad na eentaligheid.
Dr. Hermann meen as dit waar is dat die minister self die onweerswolke aanwakker verbreek sy ’n getekende ooreenkoms met Solidariteit wat basiese beskerming aan Afrikaanse skole bied en verbreek sy as DA-minister ’n verkiesingsbelofte, aangesien Bela vir die DA ’n rooi lyn was.
“Die wet is egter deur die president, onder die wakende oog van die minister, gepromulgeer. As ook sý Bela nou as ’n wapen teen Afrikaanse skole gebruik, sal dit skreiend wees. Ons verwag van die minister om haar standpunt openlik en duidelik te stel,” het Hermann gesê.