Die minister van finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting Woensdag – ná ‘n vertraging van byna drie weke – ‘n hersiene nasionale begroting lewer.
Die aanvanklike begrotingsvoorstel, wat op 19 Februarie verwerp is, het ten doel gehad om BTW met twee persentasiepunte te verhoog – ‘n skuif wat nou glo van die hand gewys is.
Cosatu se Matthew Parks meen die vakbondfederasie wil groter steun vir Eskom, Transnet en openbare dienste sien.
Hy het beklemtoon dat Cosatu inkomstebelastingverhogings op werkers teenstaan en het die regering versoek om eerder befondsing aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te bevorder om belastingontduiking te bekamp.
“Die regering het ‘n keuse. Ons kan voortgaan met die pad wat die armes laat honger ly en openbare dienste knou óf kan nugter daaroor dink en die staat regruk deur te verseker dat hy die hulpbronne het wat hy daarvoor nodig het.
Die kabinet gaan intussen vandag sy finale goedkeuring van Godongwana se hersiene begroting gee.
Die leier van die DA, John Steenhuisen, het aangedui dat sy party slegs die hersiene begroting sal ondersteun as dit meer op ekonomiese groei fokus.