Luister nou

(Baie) kinders maak saak

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Demografie is lotsbepalend. Ons ken nou al hierdie bekende uitdrukking. In die wêreldgeskiedenis het stamme, gemeenskappe, volkere, lande en streke met ʼn gesonde bevolkingsaanwas dikwels juis deur sodanige bevolkingsgroei politieke, ekonomiese en ander magte en invloed verkry.

Natuurlik is bevolkingsaanwas nie alles nie. Niger, Somalië, Tsjad, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo is tans die lande met die grootste bevolkingsaanwas van tussen vyf en ses kinders per vrou, en (vir nou) dra dit nie juis by tot enige ekonomiese, politieke of ander invloed en verbeteringe in hierdie lande nie.

Demografiese tendense in Suid-Afrika oor die afgelope een honderd jaar het ʼn reuse-invloed op politieke ontwikkelinge gehad. Die swart bevolking se toename van minder as vier miljoen in 1910 tot byna 52 miljoen vandag, in vergelyking met wit Suid-Afrikaners se bevolking, wat slegs van 1,3 miljoen in 1910 tot 4,5 miljoen vandag gegroei het, is ʼn goeie voorbeeld van ʼn bevolkingsaanwas wat uiteindelik ʼn werklikheid geskep het wat tot dramatiese politieke en ekonomiese gevolge vir almal in Suid-Afrika gelei het, en steeds doen.

Indië het China twee jaar gelede verbygesteek as die land met die grootste bevolking. Dit het aansienlik bygedra tot Indië se huidige posisie as ʼn opkomende supermoondheid. In China pak die onweerswolke saam nadat die eenkindbeleid, wat vanaf 1979 tot 2015 gegeld het, nou tot ʼn skerp bevolkingsafname en ʼn verouderende bevolking lei. Wêreldwyd is daar nog baie ander voorbeelde hiervan.

Oor die eeue heen was daar verskeie eksperimente met bevolkingsaanwas wêreldwyd. Hoë bevolkingsaanwas onder minderhede is dikwels deur heersers as ʼn bedreiging gesien en het meermale tot uitwissingsveldtogte en selfs volksmoorde gelei. Volke wat wou oorheers het nog altyd probeer om dit te doen deur hoër geboortesyfers – die bevolkingsontploffing onder Palestyne in die Midde-Ooste is ʼn goeie voorbeeld – en die wyse waarop Christene in Libanon tot ʼn minderheid uitgerangeer is, het baie te make met die bevolkingsaanwas van dié land se Moslembevolking (en natuurlik ook emigrasie deur Christene).

In die Westerse wêreld is ʼn breë saak vir kleiner gesinne en minder kinders – soms subtiel, soms meer eksplisiet – oor die afgelope paar dekades aangevoer. Argumente oor wêreldwye oorbevolking, die ekologiese gevolge van groeiende bevolkings en die koste daarvan om kinders te kry en groot te maak, is dikwels voorgehou. Dít, tesame met vroue wat die arbeidsmark op reuseskaal betree het, toegang tot wettige aborsies wat ʼn gegewe in byna elke Westerse land geword het en kulturele aanpassings wat tot negatiewe persepsies oor gesinne met kinders – veral groter gesinne – gelei het, het tot ʼn totale inploffing in die bevolkingsaanwas in byna elke Westerse samelewing gelei.

Uitsonderings op hierdie reël kan nog net in enkele uiters konserwatiewe, tradisionele gemeenskappe gevind word, soos die Amish, Mennoniete en streng gereformeerde gemeenskappe binne die Nederlandse Bybelgordel gevind word. Tog is daar tekens dat hierdie tendens begin verander en dat die VSA weer eens leiding hiermee neem.

In die huidige Trump-administrasie is die vrou van die adjunkpresident, JD Vance, swanger, sowel as Trump se woordvoerder Karoline Leavitt en Stephen Miller, Trump se adjunk-stafhoof, se vrou – Katie. Die adjunk-stafhoof van die Withuis, James Blair, se vrou is ook swanger. Waarom is dit relevant?

Volgens die Instituut vir Gesinstudies in die VSA het ʼn duidelike tendens die afgelope paar jaar begin ontstaan waar konserwatiewe Amerikaners se geboortekoers begin styg het, terwyl liberale Amerikaners s’n steeds verder daal. Hierdie verdeling het so onlangs soos twee dekades gelede nog byna glad nie bestaan nie. Distrikte in die VSA waar minder as 25% van kiesers in 2020 en 2024 vir Trump gestem het, en wat dus as die mees links-progressiewe distrikte beskou kan word, het in 2024 ʼn bevolkingsaanwas van 1,31 kinders per vrou gehad. In distrikte waar Trump met 75% of meer van die stemme gewen het, was die bevolkingsaanwas 1,84 kinders per vrou – steeds laag en onder die vervangingskoers, maar wesenlik hoër as in links-progressiewe distrikte.

Ook in Europa begin konserwatiewe politieke partye vir die eerste keer in dekades jong gesinne aanmoedig om meer kinders te kry. In verskeie Europese lande is daar ʼn duidelike skeiding tussen die bevolkingsaanwas in meer konserwatiewe, plattelandse gebiede en meer progressiewe, stedelike dele.

In Suid-Afrika is daar aanduidings dat die aanwaskoers onder Afrikaners, en veral onder die mees konserwatiewe Afrikaners, nie juis afneem nie en steeds naby aan die vervangingskoers is. Afrikaners het oor die algemeen positiewe sienings oor kinders en groot gesinne word as ʼn prestasie en iets mooi beskou, eerder as iets agterlik en eenvoudig, soos dikwels die persepsie in liberale samelewings is.

Die Instituut vir Gesinstudies se verslag het ook bevind dat konserwatiewe Amerikaners nou heelwat meer geneig is om te trou, en dan ook op ʼn jonger ouderdom te trou, as links-progressiewe Amerikaners. Dit maak dit natuurlik moontlik om meer kinders te kry.

Uiteindelik is dit slegs volkere wat hul bevolkings in stand kon hou, binne gekonsentreerde gebiede, met genoeg kinders, wat deur die geskiedenis heen kon voortbestaan. Daarom is die nuus uit die Withuis van talle swangerskappe bemoedigend. Ook Afrikaners en ons instellings moet ʼn groter poging aanwend om ʼn omgewing te skep waarin dit nie net aanvaarbaar is nie, maar ook mooi, goed en wenslik is om jonk te trou en minstens drie of meer kinders te kry.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit. 

Gewilde Nuus

Mbalula warns those assaulting on-duty police officers

Massaskietvoorvalle eis reeds 100de

Orania

Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Ernst Roets

Wit kruise nou na Uniegebou

Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann

VSA-debat jaag temperature op

Willie Spies

VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit
V (1)
Eerste skenkerleweroorplantings by Raslouw Private Hospital
V
Gryskrag: SASSA-toelaes moet nie van uitgerekte kaartproses afhang nie
Mbalula warns those assaulting on-duty police officers
Massaskietvoorvalle eis reeds 100de
Orania
Oraniërs stem anders in komende verkiesing

Luister nou