Die voormalige premier van die Vrystaat, Ace Magashule, het vroeër vandag onskuldig gepleit op alle klagte teen hom, wat te make het met die omstrede asbesdak-ouditsaak.
Hy het weer vandag, saam met sy 17 medebeskuldigdes in die hooggeregshof in Bloemfontein verskyn in verband met hulle beweerde betrokkenheid by die asbesdak-oudit.
Die 18 beskuldigdes, onder wie vyf maatskappye, staan tereg op onder meer aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery van R255-miljoen.
Magashule het tydens vandag se sitting gesê dat hy van die begin af in die openbaar aangedui het dat hy onskuldig is, en dat hy daar by sal staan.
Die tender is deur die Vrystaatse regering uitgereik vir ‘n maatskappy om die asbesdakke in die provinsie te tel, asook om die dakke te vervang. Volgens berigte is miljoene glo uitbetaal, maar is die werk nie gedoen nie.
Vandag is dag twee van die verhoor wat nog tot Junie op die hofrol geplaas is.