Die moordsaak teen Amber Lee Hughes is tot 7 Augustus vir verdere slotbetoë deur die verdediging uitgestel nadat Hughes vandag in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig gepleit het op die moord van die vierjarige Nada-Jane Challita.
Hughes, ’n gewese kleuterskooljuffrou, het voorheen volgehou die kind het per ongeluk in ’n bad verdrink. Sy het egter nou erken dat sy doelbewus op die dogtertjie in die bad gesit het totdat sy gesterf het. Hughes ontken egter enige seksuele aanranding of verkragting.
Volgens haar was die “sneller” vir die daad twis met Nada-Jane se pa, asook haar eie persoonlikheidsteuring.
Hughes se pa het die hof emosioneel verlaat, terwyl Nada-Jane se ouers, Elie Challita en Amy Johnston, aangedaan was maar gesê het hulle is verlig dat die waarheid uiteindelik bekend is.