Minstens 92 buffels het in die Chobe-rivier in die Kabulabula-omgewing in die Zambezi-streek van Namibië verdrink, nadat die buffels glo voor ’n trop leeus op hul hakke gevlug het.
Die leeus het die buffels glo vanaf een van die eilande in Botswana gejaag.
Dis die derde keer wat buffels in dieselfde omgewing verdrink. In 2018 het meer as 400 verdrink en in 2023 het meer as 100 verdrink toe hulle mekaar vertrap het.
Inwoners van die nabygeleë nedersettings het op die toneel toegesak om die vleis te verdeel.
Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie het bevestig dat sekuriteits- en wetstoepassingsbeamptes op die toneel is om die proses dop te hou en te verseker dat die vleis in samewerking met die ministerie aan die omliggende gemeenskappe versprei word.