Luister nou

Solidariteit vier sy 120ste bestaansjaar 

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 3 Junie 2022

Deur: Flip Buys

Die Solidariteit Beweging vier hierdie naweek sy 120ste bestaan. Dié beweging het oorspronklik in 1902 as die Transvaalse Mynwerkersunie (MWU) begin. Die meeste lede was Afrikaners wat nádie verwoesting van die Anglo-Boereoorlog in Johannesburg moes gaan werk om te oorleef.

Die MWU was nooit net ʼn blote vakbond nie; dit was terselfdertyd ʼn Afrikaner-kultuurvesting. Die MWU het ʼn groot bydrae gelewer om die destydse RAU tot stand te bring, en het talle arm jongmense deur groot beursskemas gehelp om daar te kon studeer.

Die arbeidshistorikus van Stellenbosch, prof. Wessel Visser, skryf dat die MWU oor meer as ʼn eeu ʼn rol ver bo sy getalle gespeel het. Hy kom in sy boek oor die organisasie se geskiedenis tot die volgende gevolgtrekking: “Die aksies en optrede van die Mynwerkersunie gedurende die twintigste eeu het die gang van die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie in ʼn belangrike mate beïnvloed.”

Hy sê verder dat “… die geskiedenis van die Mynwerkersunie tot ʼn belangrike mate ook die geskiedenis van Suid-Afrika weerspieël, en dat die historiese lotgevalle van die vakbond en dié van blank Suid-Afrika onlosmaaklik hand aan hand geloop het.”

Die land het in die 90’s deur ʼn groot politieke en ekonomiese omwenteling gegaan, wat die MWU in ʼn bestaanskrisis gedompel het. Die bekende arbeidsverhoudinge-kenner, prof. Kobus Slabbert, het in 1997 selfs die ondergang van die organisasie voorsien.

Tog kon die MWU homself herskep, en groter en sterker anderkant uitkom. Flip Buys is 25 jaar gelede in 1997 as die MWU se hoofsekretaris aangestel om die vakbond skeppend te vernuwe op grond van die beproefde waardes van ʼn Christelike Afrikanerorganisasie. Sy plan was om die vakbond eers te moderniseer sodat dit daarna deur ʼn sterk span leiers tot ʼn moderne Helpmekaar-beweging uitgebou kon word.

Die samestelling van die werksmag het intussen heeltemal verander, en die MWU het sy naam na “Solidariteit” verander na die voorbeeld van die Poolse anti-kommunistiese vakbond, Solidariteit. Hieroor sê Visser: “In ʼn herstruktureerde gedaante kon Solidariteit met groot sukses die Suid-Afrikaanse nywerheidsbedeling in die een-en-twintigste eeu as ʼn lewenskragtige, pro-aktiewe en deelnemende rolspeler betree, veral as kampvegter vir werkers- en minderheidsregte.”

Daarna is Solidariteit tot die grootste Afrikanerbeweging ooit uitgebou, met meer as 570 000 lede gesamentlik in al sy lede-organisasies. Vandag werk meer as 20 organisasies onder die vaandel van die Solidariteit Beweging Trust, wat die werksaamhede van die Beweging koördineer. Die Beweging het organisasies wat omsien na mense se werk, Afrikaners se outonomie, onderwys en opleiding, burgerregte en veiligheid, maatskaplike sorg, wat die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis bewaar, Afrikaans bevorder, en na talle ander belange omsien. Die droom is om ʼn toekoms te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Prof. Visser is van mening dat Solidariteit se geheim om vir langer as ʼn eeu te oorleef, gesetel is in sy vermoë om homself by meer as een geleentheid by gedurig veranderende sosio-politieke en ekonomiese eise aan te pas sonder om sy karakter prys te gee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

V (2)

Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit

Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.

Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek

Internasionale Perspektief nuut

ANC se linkse vriende val een ná die ander

Grasland Nasionale Park 1

Nuwe Grasveld Nasionale Park in Oos-Kaap afgekondig

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 9 Oktober 2026

Ander Nuus Artikels

Israel
7 Oktober: Waar bevind die wêreld hulself 3 jaar later?
AfriForum
AfriForum ondersoek brandstofheffings self
V (3)
Minder reise gaan lei tot minder vulstasies
V (2)
Geen politieke wil om plaasaanvalle stop te sit
Roelf Meyer by 'n kunsuitstalling in Washington.
Daarom was Roelf Meyer nie by Witkruisprojek

Luister nou